Joune vir Altyd

Die twee mense wat beskou word as België se beste manlike en vroulike sangers is albei smoorverlief op Suid-Afrika. Helmut Lotti het pas weer sy Suid-Afrikaanse aanhangers oorrompel en vroeër vanjaar het Dana Winner vir die tweede keer ‘n draai hier kom maak. Dana het verbintenisse met twee van die groot name in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, Steve Hofmeyr en Leon Schuster, en van verlede jaar af is die Suid-Afrikaans-gebore Deon Prinsloo haar bestuurder.

Dana het in haar eie land vyf jaar na mekaar – van 1993 tot 1997 – die gesogte Gouden Oog-toekenning ontvang. Sy is ook al in Duitsland, Nederland en Oostenryk vereer en in 1999 het die lesers van Keur hier plaaslik haar aangewys as hulle gunsteling internasionale vroue-kunstenaar. Van haar eerste album, Regenbogen, is 180 000 kopië verkoop, wat beteken dat dit ses keer platinumstatus behaal het, en van toe af spog sy met soveel toekennings en vererings dat dit onmoontlik is om almal op te noem.

Haar liefdesverhouding met Suid-Afrika het begin toe sy ‘n CD van Steve Hofmeyr in die hande gekry het en so beïndruk was daarmee dat sy hom gevra het om in 1996 saam met haar op te tree. Dit het gelei tot die vrystelling van ‘n duet, “Vroeger Bracht Je Bloemt”, ‘n pragtige weergawe van die Neil Diamond/Barbra Streisand-treffer, “You don’t bring me flowers”. Op sy beurt het Steve haar genooi om in 1998 saam met hom in die Staatsteater in Pretoria op te tree.

Die gul ontvangs hier en die skoonheid van die land het haar so beïndruk dat sy in 1998 ‘n spesiale album vir Suid-Afrika, In Love with You, opgeneem het. Dit bestaan uit Afrikaanse en Engelse weergawes van haar Vlaamse treffers en meer as 50 000 weergawes daarvan is reeds verkoop.

Die tweede Dana Winner-album wat spesiaal in Suid-Afrika vrygestel is, Yours Forever, het in 2000 die lig gesien en een van die liedjies daarop, “In Love with You”, word in die nuwe Leon Schuster-fliek gebruik. Daar is twee Afrikaanse nommertjies op die album, “Hou jy nog van my”, en die immer-gewilde “Sproetjies”, en afgesien van die Engelse nommers soos “Guardian Angel” en “Tell me why”, sing sy ook in Vlaams (“Wonderlijke liefde”) en Frans (“L’amour ca fait chanter la vie”).

As jy nog nie met Dana Winner kennis gemaak het nie, moet jy gerus ‘n draai by die naaste musiekwinkel gaan maak.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar