Kaniklani

Jacques de Coning, ‘n vonds van Port Elizabeth, het sy buiging by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn gemaak. Jacques is reeds vyftien jaar in die vermaaklikheidswêreld en sy belangstelling in musiek het reeds op ‘n jong ouderdom begin.

Jacques, wat in graad een sy eerste kunswedstryd gewen het, het op hoërskool in die Framesbykoor asook die OP-jeugkoor gesing. Hy was ook lid van die Arbitrio Mannekoor en op Universiteit het hy in die UPE Chorale gesing.

Sy formele sangonderrig het in graad tien begin en hy het sanglesse by onder andere Andre Mukheiber, Lionel van Zyl en Juanita Lamprecht geneem. Hy het dwarsdeur sy sangloopbaan aan verskeie musiekblyspele deelgeneem. Hy het na sy studies by Mike Borne Management aangesluit waar hy sangoptredes by hotelle dwarsoor die land gedoen het.

Jacques het in 1998 ‘n liedjie vir die Griekwa-rugbyspan geskryf wat baie positiewe reaksie uitgelok het. Sy debuutalbum Kaniklani bevat vyftien oorspronklike liedjies. Jacques het twaalf van die liedjies op die album geskryf, terwyl hy en sy rygbyspeler-broer Basil de Coning talente saamgesnoer het en twee liedjies, “Coca Cola Koei” en “Ek het ‘n huisie” geskryf het. Basil het ook die liedjie “Wondering” geskryf.

Kaniklani spog met ‘n verskeidenheid style – daar’s byvoorbeeld ‘n op-en-wakker ruk-‘n-rol-nommer “Kom dans met my”, ‘n reggae-liedjie “Boere reggae”, ‘n lekker saamsing-nommer “Jannie mag nie koor sing nie” en ‘n kwela, “Troue Kwêla”. Hy dra ook ‘n spesiale boeremusieknommertjie Oom Neels se konsertina aan die bobaas-konsertinaspeler Neels Mattheus op. (Neels speel self die konsertina op die snit). Daarbenewens is daar ook ‘n paar treffende ballades soos “Girl van die Klein Karoo” en “Busker” en die liefdesballade “Till the end of my life”.

Jacques en Tienie Smith was verantwoordelik vir die produksie.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Sjoe Jacques, so trots op jou en Basil! Was ook op Framesby, Basil en ek in dieselfde klas! Nie geweet jy en jou boet het sulke mooi liedjies geskryf nie, fantasties! Jammer om te lees van jou seun Basil, weet maar hy het ‘n permanente plek in jou hart. Groete mede Framesby’ er Renette Lombard.

Lewer kommentaar

Leave a Reply