www.classicsa.co.za, ‘n unieke webwerf gewei aan die klassieke musiek bedryf in Suid-Afrika, is pas 60 dae aanlyn. Hierdie interaktiewe aanlyngids, nuussentrum en netwerk-platform vir klassieke musiek lei ‘n nuwe era vir die plaaslike bedryf in.
Louis Fouché, stigter van www.classicsa.co.za, verduidelik die besluit om hierdie webtuiste te skep as volg: “Suid-Afrika bied een van die mees dinamiese klassieke musiek bedrywe in die wêreld en dit verdien ‘n globale platform.
“In Suid-Afrika beoefen jonk en oud daagliks ‘n vorm van musiek gebasseer op die beginsels van klassieke musiek onderrig. ‘n Toenemende aantal aspirerende jongmense vanuit alle sektore van die samelewing verryk hul lewens deur musiek te beoefen. Duisende koorlede sien uit na hul weeklikse repetisie en begaafde Suid-Afrikaanse musici en organisasies bied oral deur die land konserte aan. Bowenal staan talle Suid-Afrikaanse musici hul plek volwaardig vol in die internasionale arena.
“www.classicsa.co.za is om hierdie rede geskep – om te dien as vertoonvenster vir hierdie buitengewone milieu en om alle Suid-Afrikaners en die wêreld toegang daartoe te gee deur die kliek van ‘n knoppie.
Daaglikse media bied beperkte of geen dekking oor klassieke musiek gebeure nie. In teenstelling hiermee, sal www.classicsa.co.za musiekliefhebbers en -beoefenaars voortdurend van onbeperkte inligting kan voorsien. www.classicsa.co.za kan benut word as ‘n tuisblad waar gebruikers gereeld op hoogte gehou word van gebeure in die bedryf, deur details en artikels wat nie andersins beskikbaar is nie.
www.classicsa.co.za is van groot waarde vir almal wat belangstel in of betrokke is by klassieke musiek in Suid-Afrika. Enige iemand van professionele musikante, onderwysers, terapeute, orkeste, kore, tot musiekwinkels, bladmusiekverskaffers, klavierstemmers en iemand wat by verjaardae of troues sing, kan hul dienste adverteer deur in die gids te lys.
‘n Basiese inskrywing (basic listing) is gratis vir individue, groepe of organisasies en lys hul naam, beroep en ligging. Vir ‘n minimale fooi per maand kan dit opgegradeer word na ‘n volle inskrywing (full listing), wat bestaan uit ‘n “mini-webwerf” met volle kontakdetails, ‘n foto, CV en skakels na relevante bronne.
Vir persone of organisasies sonder die tegniese of finansiële middelle om hul eie webwerf te hê, is lg. ‘n waardevolle oplossing. Dit verskaf onmiddelikke sigbaarheid op die wêreldwye web en is veral ‘n ideale alternatief vir bv. klein organisasies, musiekverenigings, skole of kore.
Een van die groot trekpleisters op die webwerf is die What’s On konsertkalender. Deur ‘n muiskliek kan jy sien wat plaasvind tydens ‘n spesifieke maand, op ‘n spesifieke dag, in ‘n spesifieke genre. Jou soektog kan ook verfyn word na ‘n spesifieke provinsie. Hierdie funksie bied aan musikante, konsert- en symposia-organiseerders, sowel as publisiteitsbeamptes ‘n geleentheid om gratis blootstelling aan hul aktiwiteite te gee.
Permanente kolomme op die tuisblad sal beriggewing doen oor jongste en opwindende ontwikkelings op die klassieke musiek front, asook onderhoude met musiekpersoonlikhede en plaaslike CD uitreikings.
Deur in te teken op die blad se gratis elektroniese nuusbrief word gebruikers ingelig oor www.classicsa.co.za se doen en late en staan hul ook ‘n kans om kaartjies te wen na konserte of musiekverwante geleenthede. Die webtuiste het sy eie blog en word op sosiale internet netwerke soos Facebook en Twitter verteenwoordig.
Fouché sê: “Ons sou graag wou hê dat mense in die bedryf ons vertel waarmee hulle besig is. Dikwels hoor ‘n mens bv. van ‘n Suid-Afrikaanse koor of musikant wat ‘n gesogte internasionale prys ontvang het, maar jy lees nooit daarvan in die plaaslike media nie. Ons wil dit ons taak maak om die publiek in te lig oor dié soort prestasies wat jou inspireer en laat trots voel.”
Met die loodsing van hierdie vernuwende inisiatief beoog www.classicsa.co.za ook om daadwerklik musiekontwikkelingsprogramme en die skep van nuwe gehore in Suid-Afrika ondersteun.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
