Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Drie-en-twintig jaar na hul laaste konsert maak Led Zeppelin ‘n dramatiese terugkeer met How the West was won.
Die album het die nommer een posisie gehaal op The Billboard 200 album chart. Dit is die groep se eerste nommer een sedert In through the out door (1979). Snitte van How the West was won het in die VSA op 15 van die top 20 Rock charts verskyn. In Kananda het die album op nommer een sy debuut gemaak en op nommer vyf in Brittanje. In Ierland, Italië en Noorwee was die album in die top 10.
Die stel van 3 CD’s wat How the West was won opmaak bestaan uit lewendige opnames wat gemaak is by die Los Angeles Forum en Long Beach Arena op 25 Junie 1972 en digitaal afgeskrop is. Die skywe hou die kuns van ‘n groep op die kruin van hul sukses en talent. Indrukwekkend is die 25+ minute-weergawe van “Dazed And Confused”, die 23+ minute mengelmoes wat gebou is om “Whole Lotta Love” en natuurlik “Stairway To Heaven” en “Rock And Roll”. Daar is selfs snitte van Houses of the Holy wat eers oor nege maande verskyn.
Dit is vanjaar 35 jaar sedert Jimmy Page, Robert Plant, John Paul Jones en John Bonham hul talente by mekaar gegooi het. Tussen 1969 en 1979 het hulle nege albums uitgebring. Led Zeppelin word erken as een van die mees oorspronklike, innoverende en invloedrykste groepe in die geskiedenis van rock.
Tipes van Led Zeppelin was hoe hulle die verhoog gebruik het om kreatief om te gaan met hul eie skeppinge. Meeste van die groep se materiaal is destyds eerste by ‘n konsert gehoor in meer as een formaat voor dit op ‘n album verskyn het.
Die epiese lewendige opnames op How the West was won is ‘n sjamanistiese ondervinding wat jou op reis neem deur buitengewone musikale terrein, ‘n reis wat die klankgrens deurbreek en ‘n werklik suiwerende ervaring is.
