Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Luna Paige is terug met ’n onvoorspelbare en betowerende enkelsnit. “Rustyd & Herhaal” is ’n gewaagde artistieke skuif wat haar toetrede tot die elektronies-geïnspireerde musiekwêreld aankondig, in samewerking met die hoog aangeskrewe vervaardiger André Scheepers.
Na meer as twee dekades se werk saam met van Suid-Afrika se mees gerespekteerde sessie musikante, erken Luna die waarde van ’n loopbaan met diep kreatiewe vennootskappe, veerkragtigheid en konstante evolusie. Haar ondersteunersbasis het gevolglik bestendig gegroei en haar deur die uitdagings én hoogtepunte van haar lewe in musiek gedra.
Luna se onlangse optredes in Nederland het haar kragtige verbintenis met Nederlandse gehore opnuut beklemtoon. Van haar onlangse uitverkoopte vertonings by Herman van Veen se gesiene Kapschuur, tot betekenisvolle byeenkomste by Zuid-Afrika-huis en die hartlike Theaterkerk Bemmel, het haar musiek diep geresoneer rondom temas soos identiteit, migrasie en gedeelde menslikheid. Liedere soos “Kiss of Africa” en “Rustyd & Herhaal” het emosionele snare in verskeie teaters geroer en haar groeiende internasionale voetspoor versterk—so ook die sterk kulturele bande wat sy voortdurend tussen Suid-Afrika en Nederland kweek.
“Ek het die nuwe enkelsnit ook by Aardklop in Potchefstroom en by Woordfees in Stellenbosch uitgevoer, en die gehoor se reaksie was goed,” vertel Luna. “Daar is iets aan die manier waarop die refrein oopvou wat ’n fisiese reaksie in mense ontlok; van die verhoog af kan ek sien hoe liggame saam beweeg. Dit is ’n pragtige herinnering dat musiek ons verbind op maniere waarvan ons nie altyd bewus is nie.
“Om kunstenaar te wees – het ek besef – is wie ek is, en is wat ek vir die res van my lewe wil doen,” voeg sy by. “Op hierdie punt weet ek hoe belangrik dit is om myself uit te daag, om te bly groei en om kreatiewe risiko’s te neem. Die samewerking met André het ’n heel nuwe wêreld vir my oopgemaak.”
Met “Rustyd & Herhaal” omhels Luna ’n vars klanklandskap, en eksperimenteer sy met nuwe vokale benaderings, skryfprosesse, en ’n oopheid vir eksterne kreatiewe insette. Hierdie vrystelling is die eerste stap in wat sy beskryf as ’n opwindende nuwe hoofstuk – een wat haar klank, haar live-aanbiedings én haar verbintenis met ’n breër gehoor sal uitbrei.
“Daar is ’n vreemde soort vryheid in hierdie nuwe proses,” sê sy. “Ek het nooit kon dink hoeveel ek dit sou geniet nie. Ek leer steeds, maar ek is opgewonde om hierdie reis met my ondersteuners te deel,” sluit Luna af.
“Rustyd & Herhaal” beloof ’n dinamiese nuwe energie terwyl dit geanker bly in Luna se onmiskenbare emosionele diepte en egtheid.

