Regisseur, skrywer en vervaardiger Sean Else en sy musiekvennoot Johan Vorster het weer eens kragte saamgesnoer en die temalied vir die nuwe Suid-Afrikaanse film Modder en Bloed geskryf.
Dit is die eerste keer in vyf jaar dat Else en Vorster ’n liedjie saamskryf na hul baie treffers, soos “De La Rey”, “Ons vir jou Suid-Afrika”, “Tyd Om Te Trek”, “Die Kaplyn”, “Pa en Seun”, “68 Chevy”, “Jy Praat Nog Steeds My Taal”, “My Kreet” en vele meer.
“Die liedjie, wat Modder en Bloed genoem word, is deur die film geïnspireer en vertel van skuldgevoelens en hoe ’n mens jouself kwalik neem as jy nie daartoe in staat is om jou familie te beskerm nie en wat jy as individu of julle as groep moet doen om van die as te herrys … uit die modder en bloed … jy moet terugdraai na God toe en die krag vind om voort te gaan,” sê Else.
Bekende sanger en akteur, Bok van Blerk, wat ook ’n rol in die film vertolk, sing die temalied.
Sê Else, “Die liedjie, soos die film, spreek nie slegs tot die karakters en tyd van die Anglo-Boereoorlog nie, maar is universeel en is van toepassing op enige persoon of groep mense wat die krag en deursettingsvermoë nodig het om te red wat hulle het … of dit nou besittings is of spiritueel van aard is.”
Die film speel tydens die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika af en vertel die verhaal van ’n brawe groep Boere-gevangenes wat op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou word. Daar het hulle die geleentheid om teen die Britse Ryk op te staan deur die belangrikste spel van hul lewens te speel…
Suid-Afrikaanse en Britse akteurs sluit onder meer Stian Bam, Altus Theart, Grant Swanby, Edwin van der Walt, Charlotte Salt, Marno van der Merwe, David Louw, Gustav Gerdener en Patrick Connolly in.
Die film is deur Dark Matter Studios en Collective Dream Films vervaardig en word landswyd op 1 April 2016 deur Ster-Kinekor Entertainment vrygestel en versprei.
Modder en Bloed
Ek staan verlate, langs geraamtes,
Gebeende vingers wys na my,
Hier tussen stof en roet en haat,
Staan net die duiwel langs my sy.
Alles is weg, ek het alles verloor,
In die grond bloei die mensdom se dade,
Vir dit wat lê hier onder ons aarde,
Word in die naam van oorlog gemoor.
En my hart en my siel is vertrap in daai Modder en Bloed,
Staan nou op, staan nou saam voor jou volk en jou land hier vergaan,
Lig jouself soos een man uit die stof en die sand,
Draai jouself terug na God, vind jou siel en jou moed,
In daai Modder en Bloed,
In daai Modder en Bloed.
Nou staan ek hier, gesak op my knie,
En ek weet wat ek Hom nou moet vra,
Wees die vuur en die staal in ons lywe,
Om die vyand se haat te verslaan.
En my hart en my siel is vertap in daai Modder en Bloed,
Staan nou op, staan nou saam voor jou volk en jou land hier vergaan,
Lig jouself soos een man uit die stof en die sand,
Draai jouself terug na God, vind jou siel en jou moed,
In daai Modder en Bloed,
In daai Modder en Bloed.
Net die duiwel sterk sy dade,
Vir ’n moordenaar se haat,
Want net ’n goddelose aarde, vermoor sy kinders in die aand …
En my hart en my siel is vertrap in daai Modder en Bloed,
Staan nou op, staan nou saam voor jou volk en jou land hier vergaan,
Lig jouself soos een man uit die stof en die sand,
Draai jouself terug na God, vind jou siel en jou moed,
In daai Modder en Bloed,
In daai Modder en Bloed.
