Musiekonderrig word onder die loep geneem

Suid-Afrika se musiekonderwysers trek van 25 tot 28 Maart by die Musieksentrum Hugo Lambrechts in Parow saam vir hul vereniging se jaarlikse kongres. Die onderliggende tema is die volhoubaarheid van musiek as loopbaanrigting en die aanbieders sluit van die land se voorste komponiste, musici en bedryfsleiers in.

As gasheer nooi die uittredende president van SAVMO, Leon Hartshorne, die direkteur van Hugo Lambrechts, alle lede van die vereniging asook nie-lede wat by musiekonderrig betrokke is, hartlik uit om met eweknieë te kom skouers skuur.
“Dit mag dalk net die prikkel verskaf om met nuwe nuwe oë na musiek as loopbaanrigting te kyk en besield Suid-Afrika se ontluikende talent te vorm en na wasdom te begelei,” sê hy.

Die algemene publiek en musiekstudente is welkom om die beurswennerskonsert op 26 Maart om 19:00 by te woon.
Benewens geslote vergaderings van SAVMO se finansiële komitee en nasionale raad die vorige dag, loop die kongres op 26 Maart om 08:30 van stapel met die vereniging se algemene jaarvergadering, gevolg van 14:00 af deur die amptelike opening en eerste aanbiedings.

Die aanbiedings begin met ‘n lesing oor kopiereg deur SAMRO en ‘n groepbespreking oor die skep van nuwe komposisies en improvisasies deur lede van die SA komponistevereniging, onder leiding van prof. Zelda Potgieter van UPE.

Die eerste dag se verrigtinge loop van 19:00 af ten einde met die presidentsrede en ‘n beurswennerskonsert deur twee Kaapse pianiste Eben Wagenstroom (wenner van die Gladwell-beurs en Artscape se 2012- nasionale jeugmusiekkompetisie) en François Botha, wenner van die Kathleen Irish-beurs.

Die kongres word op 27 Maart voortgesit met aanbiedings deur die pianis Mario Nel l van US (voorbereiding vir optredes), Engela Fullard (die Sibelius-rekenaarprogram), prof. Virginia Davids van UK (sang as ‘n musiekloopbaan), Arisa Voges (Unisa se nuwe musiekleerplanne), Laurika Steenkamp (Music@work) en ‘n paneelbespreking “Musiek: Is dit betalend? “ gelei deur prof. Franklin Larey van UK.

Om die kongres af te sluit hou die nuwe nasionale raad op 28 Maart nabetragting.

Volledige besonderhede en ‘n registrasievorm is op www.sasmt-savmo.org.za beskikbaar. Belangstellendes kan ook navrae rig aan Kathleen du Plessis by clay.kathleen@gmail.com (074 154 8689) of Elma Britz britz@lantic.net (082 673 0532).

note

Lewer kommentaar

Leave a Reply