Sedert die vrystelling van die twee merkwaardige musikante, Petronel Baard en Johan Liebenberg, se sielvolle duet, “Mag jy”, einde 2023, is die musiekwêreld behoorlik aan die gons.

Nie net is dié alternatiewe skepping uit Helena Marais se pen gewild onder Afrikaanse musiekliefhebbers nie, maar dit word ook gereeld gespeel deur groot radiostasies reg oor die land, waaronder Bok Radio en Pretoria FM.

Dit is duidelik dat hierdie verwerking deur Schalk Maas en David Cruickshank, wat Baard beskryf as ’n seënwens en herinnering aan liefde, die verbeelding behoorlik aangegryp het.

So ’n spesiale lied, met so ’n kragtige boodskap, verdien natuurlik ook om verder gevier te word en daarom het die paar besluit dat die tyd reg is om die musiekvideo met aanhangers te deel.

Mag jy

Hierdie besonderse video, wat beslis sal aanklank vind by oud en jonk, is verfilm deur Efpe Senekal en speel af op verskeie uitsoekplekke in Kleinbrakrivier in die Mosselbaai omgewing.

“Efpe is regtig ’n goeie storieverteller met films, veral ook musiekvideo’s wat in ’n kort tydjie ’n liedjie se boodskap visueel moet oordra,” sê Petronel.

Die tema van die lied is geïnspireer deur die geboorte van Helena se vriendin se dogter en hoe spesiaal dit vir haar was om te aanskou hoe ’n nuwe lewe die wêreld inkom; met al die moontlikhede en uitdagings wat nog voorlê. Hierdie konsep is ook vir die video gebruik.

“Twee seuntjies, regtig maats in die regte lewe, baljaar rof en lekker in die modder en see, kamp en help mekaar op waar hul klouter op ’n treinbrug, braai malvalekkers om die vuur en baljaar ordentlik soos net kinders kan. Dit word gekombineer met my en Johan, wat in ’n mooi ateljee-omgewing sing,” verklap sy. “Die boodskap word onderskraag dat die lewe, gebore uit kinderherinneringe van vriendskap, ondersteuning en samesyn, nooit weggaan nie en dat ’n mens aanhou goeie wense wens vir diegene vir jy omgee.”

Mag Jy
Mag Jy

Lewer kommentaar

Leave a Reply