Nuwe musiekkollektief lei trio op genotvolle reis

Die jongste aanbieding deur die Kaapse Kamermusiekkollektief (KKMK) bied ‘n stryktrio repertoire met werke van drie uiteenlopende komponiste aan.

Twee van die drie komponiste het in ‘n gevorderde ouderdom sensoriese verliese gely. Ludwig von Beethoven het in sy twintigs begin om sy gehoor te verloor en was in sy veertigs heeltemal doof. Johannes Sebastian Bach het in sy sestigs blind geword. Dit het sy skryfloopbaan beëindig.

Die vyf konserte, in en om die Kaap, word deur drie opkomende instrumentaliste uitgevoer.

Die program bied ‘n energieke en hartstogtelike eerste helfte met Beethoven se Stryktrio, Op. 9 no. 3 en Ernst von Dohnányi  se selde-uitgevoerde Serenade in C majeur, Op. 10. Uittreksels uit Bach se bekende Goldberg-variasies (Sitkoveski se verwerking vir ‘n stryktrio) bied ‘n verhewe afsluiting van die program.

Die KKMK is ‘n nie-winsgewende organisasie wat daarop gerig is om ‘n kultuur van kamermusiekuitvoerings in die Wes-Kaap te bevorder. Hulle nooi beide professionele musici en studente om by hulle maandelikse programme op te tree.

Sedert sy intrede in Januarie het die kollektief twee projekte met groot lof aangebied. Elkeen het die uitvoering van opdragwerke deur plaaslike komponiste ingesluit. Teen Desember sal hulle sestig konserte op die kerfstok hê.

“Dié konserte bevestig ons ywer om wêreldgehalte kamermusiek aan nuwe en bestaande gehore te bring,” sê Graham du Plessis, woordvoerder van die KKMK.

Die derde ronde konserte vind as volg plaas

*Franschhoek: Vrydag 11 Maart 19:00 by die Nederduits Gereformeerde Kerk in Huguenotstraat. Kaartjies is R180 en R140 vir studente/pensioentrekkers, ‘n gratis glasie wyn is ingesluit.

*Kaapstad sakekern: Saterdag 12 Maart, twee konserte om 16:00 en 19:30 by Spinstraat 6. Kaartjies vir die middagkonsert is R150, ‘n gratis glasie wyn is ingesluit. By die 19:30-konsert word canapés tydens pouse bedien en kaartjies is R220.

*Hermanus: Sondag 13 Maart 15:30 by die St Peter’s-kerk in samewerking met die OAK-Musiekvereniging. Kaartjies is R150 en R60 vir studente. ‘n Gratis glasie wyn en ‘n gratis proebewys vir twee by Painted Wolf-wyne se nuwe lokaal in Simondium is ingesluit.

*Wynberg: Maandag 14 Maart 18:00 by die Musieksaal van die Springfield Kloosterskool, St Johnsweg. Kaartjies is R160 en R80 vir studente.

Die drie kunstenaars is Jeffrey Armstrong (viool), Lynn Rudolph (altviool) en Nicola McLachlan (tjello). Wenner van die 2021 UNISA Nasionale Strykkompetisie, Jeffrey Armstrong, is besig om sy Meestersgraad in viool aan die Hochschule für Musik, Tanz und Medien in Hannover, Duitsland onder Elisabeth Kufferath te voltooi.

Altviolis Lynn Rudolph was die nooienswenner van die eerste Suid-Afrikaanse Strykstigtingkompetisie in 2021, en het onlangs ‘n Meestersgraad aan die die Nelson Mandela Universiteit voltooi. Dit het ‘n wêreldpremière van plaaslike komponis, Arthur Feder, ingesluit.

Nicola Mclachlan het haar musiekgraad in tjello-opvoering onlangs met onderskeiding voltooi. Sy wen ook die eerste prys in die Universiteit van Kaapstad (UK) se Schock Kamermusiekkompetisie. Sy is besig met haar honneursgraad aan die UK onder Graham du Plessis.

Alle kaartjies kan kan bespreek word by Quicket via die KKMK webtuiste by www.capechambercollective.com.

Met hulle diepgewortelde liefde vir kamermusiek, is Nicola Mclachlan (tjello), Jeffrey Armstrong (viool) en Lynn Rudolph (altviool) gereed om by die derde konsertreeks van die Kaapse Kamermusiekkolektief (KKMK) van 11 tot 14 Maart 2022 in en om die Kaap te speel.

Lewer kommentaar

Leave a Reply