Die talentvolle kunstenaar, Deon Human, het pas sy nuutste enkelsnit, “Ons Twee”, bekendgestel.

ʼn Treffende popliedjie wat die emosie en opwinding van ʼn nuwe begin perfek vasvang.

“Hierdie liedjie vertel die storie van twee mense wat hul hele lewe moet oppak en trek na ʼn nuwe dorp of stad,” sê Deon oor die lirieke se betekenis. “Hulle laat vriende, familie en alles wat bekend is agter, maar in die proses besef hulle dat al het hulle alles verloor, het hulle nog steeds mekaar en dit is genoeg.”

Die lied gaan oor ʼn groot lewensverandering en word eerder uitgebeeld as mense wat ʼn nuwe avontuur aanpak, in stede van ʼn verlies. Die twee karakters benader hul nuwe begin as ʼn reis van hoop, drome en die belofte van iets nuuts.

Deon het self die lirieke geskryf, wat geïnspireer is deur sy eie lewenservarings, en op ʼn kreatiewe manier oorvertel word. Ferdinand Skead van Skead Records was verantwoordelik vir die produksie en het ook gehelp om die gevoel van beweging, verandering en emosie in die klank vas te vang.

Volgens die sanger vorm dié snit deel van ʼn groter tema waarmee hy tans werk: stories van mense wat moet oppak en trek – hetsy na ʼn nuwe dorp of selfs na ander lande. “Ek skryf deesdae baie oor mense wat hul lewens moet oor begin, wat alles agterlaat en die bladsy op ʼn nuwe hoofstuk omblaai. Dit is iets waarmee baie mense kan vereenselwig, veral met hedendaagse omstandighede,” verduidelik hy.

“Ons Twee” is sy sesde vrystelling, en die voriges het reeds goeie momentum opgebou. Sy musiek is al meer as 100 000 keer gestroom en sy aanhangersbasis bly groei. Interessant genoeg het sy snit “Vat Nog ʼn Kans”, wat hy aanvanklik gedink het minder goed sou vaar, besonder goed op Spotify presteer, terwyl “Ons is Dors” groot sukses op YouTube behaal het.

Sedert sy laaste vrystelling, is Deon hard aan die werk om nuwe materiaal te skep, met verskeie liedjies wat in dieselfde tema en rigting beweeg. Alhoewel hy ook ʼn liefde vir punk rock het, ʼn genre waarmee hy groot geword het en lank beoefen het, fokus hy tans meer op sy Afrikaanse styl.

Sy planne vir die res van 2026 is ambisieus – hy wil gereeld nuwe musiek uitreik, met die doel om elke drie maande ʼn nuwe enkelsnit vry te stel.

Buiten vir die musiekbedryf bestuur Deon al vir die afgelope 14 jaar sy eie besigheid, waar hy meubels vervaardig vir verskeie meubelwinkels. Dis ʼn konkrete bewys van sy entrepreneursgees en harde werksetiek.

Die musiekvideo vir “Ons Twee” bied ʼn unieke benadering, aangesien dit met behulp van kunsmatige intelligensie (KI) geskep is. Die proses was uitdagend en tydrowend, maar het uiteindelik ʼn visuele produk gelewer wat perfek by die tema van die lied pas. Die video beeld twee mense uit wat hul tasse gepak het en op pad is na ʼn nuwe begin.

Die boodskap van die video is eenvoudig, maar kragtig en sluit by die betekenis van die lirieke aan: as ʼn mens mekaar het, het jy eintlik alles wat jy nodig het. Alles anders is bloot ʼn bonus.

Volgens Deon was die mees bevredigende deel van die skeppingsproses om die tegniese uitdagings te oorkom, veral om die lipsinchronisasie reg te kry. Dit was iets wat hy talle kere moes oor doen om die gewenste resultaat te bereik.

Met “Ons Twee” sing Deon Human nie net ʼn lied nie, maar ʼn storie van hoop, verandering en die krag van twee mense wat saamstaan. Aanhangers sal nuwe beginne met opwinding aanpak, solank hulle nie alleen is nie.

Ons Twee - Deon Human
Ons Twee – Deon Human

Lewer kommentaar

Leave a Reply