Karen Zoid se nuwe album Op die oomblik is die eerste deel van drie verskillende hoofstukke in Zoid se nuwe liedjieboek.
Zoid se super-gelaaide rock energie en haar vermoë om ook onvoorspelbare en soms selfs die mooiste delikate liedjies te skryf, raak al vir jare aan TV- en konsert-gehore se harte – én senuwees! Hierdie diversiteit wys op die album soos die liedjies wissel tussen klassieke rock, kragtige ballades, asook tong in die kies en diep, sielvolle komposisies – in ware Karen Zoid styl.
Zoid en haar band, Schalk van der Merwe, Henry Steel en Tim Rankin speel al sewe jaar saam. Hulle het verlede jaar met Kyle Petersen op klavier begin werk en Kyle het ook saam geskryf aan die liedjie “Vir Jou”.
Zoid sê: “Ware liefde is iets wat eers werklik waardeer kan word deur iemand wat al ‘n paar myle gedoen het op hierdie besoedelde albastertjie. Die teenwoordigheid van liefde is vir my die werklike bewys dat ons nie alleen is in die heelal nie.”
Al is die musiekbedryf tans in ‘n sogenaamde “enkelsnit era” is die maak van `n album nog steeds vir Zoid meer vervullend. Sy sê: “Ek wil graag deel voel van die huidige era, eerder as om te veg of maak asof dit nie so is nie. Gewoonlik skryf ek twintig of dertig en dan kies ek die “beste” 12 of so om ‘n album op te maak. Met hierdie liedjies het ek besluit om die eerste paar songs wat ek skryf net te voltooi en dadelik op te neem. Ek wil die oomblik vasvang al weet ek dis onmoontlik. Ek is besig om te probeer. Ek wil dit beskryf en verken en ten volle ervaar. Dis ook nie net ons musiekwêreld wat in ‘n ‘enkelsnit era ‘is nie, die hele wêreld is eintlik ook. Iemand sê iets in Amerika en dit affekteer die hele Midde-Ooste. Oombliklik.”
Bo en behalwe die uitreiking van die album, is daar ook nog twee opwindende datums om na uit te sien: Op 20 Augustus saai kykNET en ShowMax `n kortfilm van Karen Zoid uit. Die film is ‘n visuele album.
Zoid maak op 24 Augustus weer geskiedenis deurdat sy die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar gaan wees wat `n visuele album op iTunes gaan uitreik. Internasionale kunstenaars wat al soortgelyke visuele albums uitgereik het sluit Beyonce, Drake en Brad Paisley in.
Snitte Op die oomblik – Deel een:
1. Vonkelvrou.
2. Vir Jou.
3. Dames en Here.
4. Maak dit of breek dit.
5. Weg wereld.
6. Vertaal.
7. Giant Mistake (bonus snit) met Kahn Morbee van The Parlotones.
Op die oomblik – Deel een is by Bellville studios opgeneem onder leiding van musiek-regisseur Theo Crous.