Psalms van ‘n digter

Psalms van ‘n digter is ‘n produksie uit die penne en kitare van Jan Blohm (stem en akoestiese kitaar), Christoph Kotze (stem en akoestiese kitaar) en Henre Masser (agtergrondstem, perkussie, akoestiese kitaar).

Hierdie digters, liedjieskrywers en musikante het ‘n rits splinternuwe liedjies opgelewer. Nuwe verwerkings van onder meer “Breyten se brief”, “Groen Trui” en “In Wens” van Jan Blohm kan gehoor word, asook van die mooiste liedjies uit die pen van Christoph.

Jan Blohm het nie veel bekendstelling nodig nie. Jan is nie net bekend vir onder meer liedjies soos “Breyten se brief”, “Groen Trui” en “7 Jaar” nie, maar ook as akteur in die Frans Marx dramareeks Dit wat stom is (2005) en Egoli (2008). Jan skryf gedigte vandat hy kan onthou. Afrikaans is vir hom heilig en hy is baie lief vir die digkuns en gee ‘n digterlike eienskap aan sy musiek.

Christoph Kotze tree reeds sedert 2006 by van die land se bekendste kuierplekke op en het al die verhoog met groot name soos Anton Goosen, Blackie Swart, Gian Groen en Jakkie Louw gedeel. Hy het reeds op ‘n jong ouderdom bewys dat hy oor ‘n kwaliteit beskik, wat so min in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf voorkom – oorspronklikheid. Sy debuut album Sprokie Suid-Afrika het die lig gesien onder die ervare hand van Blackie Swart en die album het baie publieke en media aandag geniet en is selfs in 2007 vir ‘n Vonk toekenning vir Beste Alternatiewe Album genomineer – nie te sleg vir ‘n beginner nie …

Resensente en kritici was uit die veld geslaan dat die volwasse, unieke klanke en lirieke uit die pen van ‘n 21-jarige kon kom. Dit behoort eintlik nie soveel van ‘n skok te wees nie, aangesien Christoph reeds in 2005 as matriek leerling 5de in Crescendo geëindig het met sy liedjie ‘Onbeskryfbaar’.

Henre is ‘n bekende naam in die musiekbedryf en het die potte geslaan vir onder meer Ray Dylan, Jakkie Louw en Beeskraal. Hy is ook ‘n befaamde studio producer vir Maroela Musiek en het uitmuntende werk opgelewer vir platinumkunstenaars soos Gerrie Pretorius en DJ Ossewa.

Jan Blohm
Jan Blohm

Lewer kommentaar

Leave a Reply