Ons moes nege jaar wag vir wat waarskynlik Mathys Roets se laaste album is waarvan daar regte egte CD’s gedruk gaan word. Hierdie CD’s sal as’t ware niks minder as ’n versamelstuk wees nie – veral siende daar slegs ’n beperkte hoeveel gemaak (en genommer) sal word.

In tipiese Mathys Roets-styl is elke liedjie met diepte en warmte gevul. Wat hierdie album so spesiaal maak is die samevloei van die digkuns en musikale vernuf. Die album bestaan uit 12 liedjies (waarvan 11 nog nooit voorheen deur Mathys opgeneem is nie). Wat bydra tot die eiesoortigheid van hierdie album is die feit dat Mathys sy digterlike versamelstukke van die afgelope paar jare intiem met die gehoor deel. Dít en die feit dat Matthys Maree vier van die liedjies getoonset het. Die natuurlike resultaat hiervan: meesterlik en meesleurend.


Mathys het oor die afgelope paar jaar ’n variasie van gedigte en musiek versamel. Hy voel nou, na nege jaar, dat die tyd ryp is om dit te deel. Hy is heeltemal bewus van die gevoel wat hy wil skep en en met hierdie album kry hy dit perfek reg. Elke lied kry dit reg om jou met nostalgie te laat terugdink aan spesiale oomblike uit ’n ander lewe. Dis asof liriek en melodie saamspan om jou te laat ontvlug na alles waarvan jy reeds vergeet het.


Die lied “Waantoe nou”, geskryf en getoonset deur Mathys self, het hom herinner aan die gedigte wat hy jare gelede van Nelius Boshoff ontvang het. Saam met Matthys Maree is die gedigte afgestof en “Bertus se ballade”, “Stasie in die Skemer”, “Grassade en Katedraal” en “Prinses van Wallis” gebore.


“Klaasvakie”, die vyfde van hierdie gedigte, het Mathys opslag laat terugdink aan die kleintyd-wiegelied wat sy pa vir hom gesing het. Voor hy sy oë kon uitvee is sy pa en Nelius se woorde inmekaar geweef en het die wiegelied as inspirasie vir die melodie gedien. Hierdie lied lê Mathys veral na aan die hart en dit is duidelik, want mens is werklik geboei van die eerste noot af.


Mathys sing ook al vir jare Piet van Wyk de Vries se musiek. Een van die mooiste liedjies op die album, “Sprokie”, het Piet spesiaal vir Matthys geskryf. “Reën”, die pragtige titelsnit is uit Carel Chapman se pen.


En, natuurlik is geen Mathys Roets album ooit volmaak sonder ’n Leonard Cohen-treffer nie. Cohen se laaste album (wat uitgebring is na sy dood) het ‘n lied, “Thanks for the Dance”, wat Matthys nog altyd na aan die hart gelê het. Juis hierom het hy en Matthys Maree dit verwerk tot ’n produk wat Cohen se talent en Mathys se gawe om Cohen woorde lewe te gee ten toon te stel.


Mathys span, oudergewoonte, met die beste musikante in die bedryf kragte saam. Om te verseker dat hierdie album, soos sy voriges, van die beste gehalte is, is 13 strykers lewendig in die Atterbury Teater in Pretoria opgeneem. Die klavier opname, natuurlik, ook niks minder as die asemrowende Steinway-vleuel nie.


Matthys Maree – musiekregisseur, pianis en trekklavier
Juan Floors Oosthuizen – kitaar en addisionele programering
Ricus Nel – banjo, mandolin en kitaar
David Klassen – perkussie
Fuzz Senekal – baskitaar
Liesl du Toit – agtergrondsang
Opnames en finale meng: Odyssey Records (Atterbury Teater, Pretoria)

Mathys Roets met sy CD bekendstelling van Reën by Die Boer restaurant teater in Durbanville

1-4 Okt; elke aand 19:30 en Sondag 13:30

Prys: R150 Bespreek by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Mathys Roets

Lewer kommentaar

Leave a Reply