In 2025 vier ons die merkwaardige loopbaan van Richard van der Westhuizen – ’n kunstenaar wie diep spore in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf laat. Vir vier dekades lank voer Richard gehore mee. Vanaf sy verhoogdebuut in Die van Aardes van Grootoor in 1979, tot sy onvergeetlike vertolking van die temalied vir Ballade vir ’n Enkeling, het Richard ’n unieke vermoë ontwikkel om die hart van ’n storie te vertolk – of dit nou op die verhoog, voor die kamera, of agter ’n mikrofoon is. Richard van der Westhuizen – Veertig word op Saterdag, 7 Junie om 15h00 in die Fairtree Atterburyteater aangebied.
Regisseur Frans Swart het vir Richard oortuig om na 20 jaar weer ‘n lekker verhoogrol aan te pak en is hy tans te sien in Lefra Produksie se treffer produksie, Vlerksleep. Richard van der Westhuizen het sy verhoogloopbaan afgeskop in 1979 met Die van Aardes van Grootoor deur Pieter-Dirk Uys en het oor dekades heen ‘n ryke verskeidenheid karakters vertolk, van Shakespeare se Laertes in Hamlet tot ‘n sjarmante potlooddief in Die Potlooddief en die Engel. Hy het saam met ikoniese akteurs soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Anna Neethling-Pohl en Siegfried Mynhardt gewerk en onder regisseurs soos Francois Swart, Cobus Rossouw en Albert Maritz. Van der Westhuizen is verskeie kere vir sy spel bekroon en het met produksies soos Die Laaste Strooi, Taraboemdery en Droomvrou oor Suid-Afrika getoer.
Op televisie het hy bekendheid verwerf met rolle in klassiekers soos Ballade vir ‘n Enkeling, Agter Elke Man, 7de Laan, Plek van die Vleisvreters en Binneland. Sy vermoë om uiteenlopende karakters te vertolk—van befoeterde prokureurs tot eksentrieke boere—het hom ‘n geliefde gesig op die kassie gemaak. In film het hy ook sy merk gemaak, met rolle in gewilde Afrikaanse rolprente soos Karate Kallie, Bakgat 2, Fanie Fourie se Lobola, Die Ballade van Robbie de Wee en Treurgrond, dikwels onder regie van Darrell Roodt.
As sanger en liedjieskrywer het Van der Westhuizen se musiekloopbaan begin met Die Lewe is ‘n Grenshotel saam met Hennie Aucamp. Sy stem en lirieke het hom nie net temaliedjies vir reekse soos Ballade vir ’n Enkeling laat skryf en uitvoer nie, maar ook ‘n plek gegee in verhoogproduksies waarin musiek sentraal staan, soos Droomvrou. Sy liefde vir musiek is deur sy hele loopbaan verweef met sy werk as akteur en verhoogkunstenaar.
Met bekroonde rolle in teaterproduksies, gewilde televisiereekse, rolprente, en ’n musiekloopbaan wat goudstatus behaal het, staan Richard as ’n toonbeeld van volgehoue toewyding en kunstenaarskap. Hy is nie net ’n verteller nie – hy is ’n bewaker van die Afrikaanse taal, ’n draer van kultuur, en ’n stem vir ’n volk se verlange en vreugde. In die produksie Richard van der Westhuizen 40 eer ons nie net ’n loopbaan nie, maar ’n lewe van kreatiewe oorgawe.
Met Richard van der Westhuizen en Andrew Roos
Fairtree Atterburyteater, Lynnwood Bridge Lifestyle Centre, Daventrystraat 4, Hoek Van Lynnwoodweg, Lynnwood Saterdag, 7 Junie @ 15:00
Bespreek by www.LTickets.co.za

