Saarkie stel nuwe musiekvideo bekend

Die Afrikaanse “all girl rock” groep, Saarkie, het pas hulle nuwe musiekvideo, Dullstroom, bekendgestel!

Saarkie is ‘n All-girl-rock band in Suid-Afrika wat vir elke aspek van hulle musiek en uitvoering daarvan verantwoordelik is. Met hulle eiesoortige styl en vibe bied hulle vertonings vermeng in Afrikaans en Engels aan. Hulle musiek is ’n kombinasie van talent en passievolle energie wat met dinamika, sinergie en talent oortuig!

Adèle Fouché is die hoofsanger, speel kitaar en mondfluitjie. Lila Botha speel dromme en is ook agtergrondstem. Lourene Mostert speel die baskitaar, klawerboard en is ook agtergrondstem. Beide Adèle en Lila is van Boksburg afkomstig en sedert kleuterskool al vriendinne. Hulle is saam na Laerskool Baanbreker en vandaar saam na Dr. EG Jansen. Lourene is van Centurion, het eers op Messina gewoon, maar toe behoorlik haar wortels in Centurion gevestig.

Hulle het gedurende Oktober 2014, hulle eerste enkelsnit getiteld “Dullstroom” vanaf hulle splinternuwe en derde album, Reisiger, bekendgestel en het pas die musiekvideo uitgereik.

Die album is vroeg in 2015 uitgereik en is vervaardig deur Sean Manley en Zanda Greeff. Die album bestaan uit 12 liedjies en sluit in onder andere “Afrikaland”, “Freefalling”, “Vroue van Afrika”, “Reisiger”, “Chuck Norris”, “Trust”, “One Love”, “Dullstroom”, “My jeug”, “Kamers van my hart”, “Ai my lam”, en “Nader aan my”.

“Dullstroom” gaan oor die onvergeetlike herinneringe wat in daardie klein dorpie in Mpumalanga gemaak is. Dit vertel van die beeldskone natuur, die doodse stilte in die winternagte, die kuier en lag by die plaaslike brouery, die munte op die treinspoor … Elke gedeelde oomblik wat jy ryg deur jou hart en nooit wil laat gaan nie. ‘n Herinnering wat jou deur al die seisoene van die lewe vat.

Hulle tweede enkelsnit, “Somerjare”, en die musiekvideo hiervan is gedurende Februarie 2015 uitgereik en eksklusief vrygestel op Jukebox 7 Maart 2015.

Saarkie vertel meer oor die vervaardiging van hulle splinternuwe album: “Ons as Saarkie is baie trots en opgewonde om terug te kan kyk na die harde werk en moeite wat almal ingesit het om van ons derde album, Reisiger, ‘n sukses te maak. Dit was ‘n ongelooflike ervaring en ‘n leerskool wat ons deur diep waters gevat het maar ook gemotiveer het om hard te werk en dinge op te offer vir wat jy in die lewe wil hê. Ons toer gereeld deur die land en sien soms die interessantste dorpies en mense. Wanneer ons nie op die pad was nie, het ons liedjieskryf wegbreke gehad na plekke soos Botswana en Mosambiek of sommer net n lekker kamp langs ‘n dam. Ons album gaan oor die reise van die lewe asook die reise na die plekke wat soveel stories en herinneringe in ons harte ingekerf het. Om ‘n suksesvolle album te maak in hierdie kompeterende industrie is baie uitdagend, maar ons het elke dag tree-vir-tree die struikelblokke oorkom en die inspirasie gekry om te skryf oor ons ervarings. Dit is so lekker om ons passie te kan uitleef en dit in ons liedjies met die mense te deel. Die skryf van die album het baie tyd en moeite gekos en almal wat bygedra het, het met hart en siel aan die album gewerk. Ons is baie dankbaar vir die ongelooflike span wat agter ons staan.”

Saarkie het in 2009 hul debuut album Luister vrygestel. Die album is saamgestel uit 12 oorspronklike snitte waarvan 3 Engels is. Hierdie album het ‘n goeie indruk op die Suid- Afrikaanse mark gemaak, en het die Saarkie naam behoorlik in die harte van gehore landswyd gevestig. Die groep se eerste musiekvideo het sy oorsprong ook aan die debuutalbum te danke – dit is vir die snit “Sneeu in Afrika” geskiet en was gereeld gespeel op MK.

In Maart 2011 het hul tweede album, naamlik Identiteit die lig gesien. Die album is vervaardig deur Sean Manley en Zanda Traut en is opgeneem by Manley Studios in Pretoria, waar van SA se mees bekende kunstenaars al albums opgeneem het. ’n Musiekvideo “Identiteit” is terselfdertyd uitgegee en word steeds op verskeie TV kanale vertoon.

Saarkie
Saarkie

Lewer kommentaar

Leave a Reply