Een van Suid-Afrika se mees geliefde kunstenaars, Joshua na die Reën (JNDR), neem ’n dapper tree vorentoe met ’n nuwe alternatiewe projek wat sy musiekloopbaan in 2025 opnuut gaan herdefinieer.

Na elf jaar waarin hy gehore betower het met sy unieke kontemporêre solo-klank in die Afrikaanse musiekbedryf, begin JNDR ’n splinternuwe samewerkingsprojek genaamd SEUNS VAN VLUG, ’n alternatiewe musiekprojek wat ’n heeltemal nuwe dimensie aan sy kuns verleen.

Hierdie nuwe rigting is nie net ’n uitbreiding van sy solo-loopbaan nie, maar funksioneer eerder as ’n samewerking van talentvolle musikante wat ’n unieke en kragtige klank na die verhoog bring. Dit bied ’n meer dinamiese, groepsgedrewe benadering en ’n vars, alternatiewe musiekervaring.

Hierdie uitbreiding van sy handelsmerk beteken dat JNDR nou in drie verskillende dimensies funksioneer. Eerstens, Joshua na die Reën soos almal hom ken – met sy teaterstyl optredes waar gehore sy musiek in ’n kontemporêre formaat kan beleef. Tweedens, Alleen op die Bergpiek, ’n diep meditatiewe ervaring wat nie ’n tradisionele vertoning is nie, maar eerder ’n seremonie waar musiek en meditasie mekaar ontmoet. En nou, derdens, SEUNS VAN VLUG – ’n totaal alternatiewe ervaring wat goed sal werk op feesverhoë of as deel van ’n alternatiewe rock-konsert.

SEUNS VAN VLUG bestaan uit vyf lede, wat elkeen ’n unieke bydrae tot die projek maak: Jacques de Villiers, wat nie net as liedjieskrywer optree nie, maar ook die hoofsanger is en kitaar en klawerbord speel; Stephen Jonathan op kitaar; Stanley June op baskitaar en verantwoordelik vir klankmeestering; Lardo de Beer op dromme; en Andy Maritz, wat toesig hou oor die vervaardiging.

Die groep se naam dra die kenmerkende simboliek waarvoor Joshua na die Reën bekend is. Dit mag dalk aanvanklik klink asof die seuns van iets af vlug, maar die ware betekenis van die naam lê in die erkenning dat ons die afstammelinge van vlieg is – ons weet reeds hoe. Elke mens droom een of ander tyd daarvan om te vlieg, en dit is hierdie universele konneksie wat die groep met hul gehore wil deel. Die verhoog word ’n ontmoetingspunt waar musiek en emosie saamvloei en waar die gehoor saam met die musiek kan styg. Ons voete mag op die aarde staan, maar ons wese en essensie herken die vryheid van die uitspansel.

Hulle eerste enkelsnit, genaamd KOMPAS, is geskryf deur Jacques de Villiers en verder ontwikkel en verwerk deur die groep. Omslag gedoen deur Danielle Joubert.

Hierdie snit dra die tema van reis, introspeksie en die soeke na antwoorde.

“Ek staan verward hier op ’n kruispad,
met ’n kompas in my hand,
maar die rigting wat dit wys het ek reeds geloop.”

Die lirieke spreek van ’n interne stryd en hoop op ’n nuwe begin selfs te midde van onsekerheid. Die soeke na antwoorde en betekenis word ’n deurlopende tema in die lied, wat die luisteraar lei na die idee dat selfs in die onbekende daar hoop en vernuwing kan wees.

Alhoewel die lied oorspronklik vyf minute lank was, is dit herverwerk tot ’n radio-vriendelike weergawe om speeltyd te kry.

Met die bekendstelling van SEUNS VAN VLUG betree Joshua na die Reën ’n nuwe era van kreatiwiteit en eksperimentering, en 2025 beloof om ’n jaar van transformerende musiekervarings vir sy aanhangers te wees.

Seuns van Vlug
Seuns van Vlug

Lewer kommentaar

Leave a Reply