deur Ferdi Wheeler
Jack Weir is nie in die tronk, of dood nie. Hy skuil in die maanlig in my tuin, daarvan is ek seker. Ek kan sy silhoeët sien, waar hy teen die stam van die denneboom aangedruk staan. Ek kyk deur ‘n gleuf in die gordyne in my sitkamer. Ek haal skaars asem. Hoekom staan hy net daar? Ek ken hom immers as ’n man van aksie – die huursoldaat wat hy is.
Nou beweeg hy! Hy stap na die voordeur. Ek los alles en hardloop slaapkamer toe. Ek het nie ‘n geweer nie, maar ek maak staat op ‘n stuk gegalvaniseerde staalpyp vir beskerming. As hy inbreek – ek laat hom nie in nie – gaan ek sy skedel kraak.
Ek gryp die pyp onder die bed en staan op. Ek luister aandagtig. Dit is stil. Hy weet hoe om enige slot te ontsluit. Miskien maak hy nou die voordeur oop! Ek moet hom gaan afweer, sou hy slaag. Muur-tot-muur-matte bedek die vloere van my huis, sodat ek geruisloos rond kan beweeg.
Op pad terug na die sitkamer toe, ruik ek hom al voor ek hom sien. Hy’t so waar as god op die stoepmuur gaan sit en rook. Ek kan hom deur die groot erkervenster sien wat op die stoep uitkyk. Dit is net soos hy is. Hy is duidelik aan die vlug, tog sit hy oop en bloot en rook. Dit lyk nie of hy my gesien het nie, daarom hurk ek by die sideboard en probeer myself so klein as moontlik maak.
Ek wil niks meer met hom te doen hê nie. Tog voel ek gemesmeriseer deur hom, maar ook hulpeloos. Hy skiet die sigaretstompie weg oor die grasperk – die rooi kooltjie trek met ‘n boog die nag in. Hy stap na die voordeur. Hy is ‘n groot man en die glasdeur word donker as hy voor dit stop. Hy klop weer en weer.
Ek haal skaars asem.
“Jeannie, Jeannie!” roep hy in sy nors, rasperige stem. “Moenie simpel wees nie. Ek kan jou sien, vrou. Gee my ‘n paar pond. Ek sweer by God ek sal jou nie verder pla nie.”
Ek bly waar ek is, maar ek weifel. Hy’s reg, ons kan mekaar sien.
Hy hou sy hande om sy oë en druk sy neus teen die glas. “Ek kan jou sien,” sê hy.
Ek staan op, die pyp vergete. My keel is droog. Korrektiewe Dienste het my nie ingelig dat hy uit is nie, so hy het weer ontsnap.
“Dis beter,” sê hy. “Net ‘n paar pond is al wat ek nodig het. Ek sweer ek loop nou weer.”
“Ek het nie veel nie. Jy moet vat wat ek het en gaan, hoor?”
“Sekerlik, my roos, my lieflingblom. Ek maak my nou skaars!”
Ek het ‘n paar honderd in my kluis. Ek neem dit terug sitkamer toe. Hy sit weer op die stoepmuur.
“Bly waar jy is,” sê ek en sluit die glasdeur oop. Die veiligheidsdeur is stewig gesluit. “Hier is geld,” sê ek en steek ‘n arm deur die diefwering.
Sy groot lyf beweeg blitsvinnig en hy gryp my arm, voor ek die geld op die stoep kon gooi en my arm terug trek.
“Asseblief, asseblief, asseblief! Moenie my seermaak nie,” roep ek desperaat uit.
“Natuurlik nie, roosknoppie. Kom ons kyk wat jy vir my gebring het .. mmm, seshonderd. Dankie.”
“Laat my nou gaan!”
“Nee, hoekom so skaam, my skat? Ek het gehoor dat jy en Garthie baljaar in my afwesigheid, nie so nie?”
“Nee, nee, nee, ons is net vriende.”
“Maar julle twee is stout so nou en dan, nè?”
“Ek gaan skree. Die bure sal kom!”
“Ek weet. Maar ek wil hê jy moet ’n les leer,” sê hy en begin druk op my arm plaas. Hy gryp my aan die hand en buig my arm teen ‘n tralie vas. Die pyn is erg en ek begin huil. Dan pluk hy my arm na agter en breek dit by die elmboog. My bene swik onder my en ek slaan op die vloer neer.
“Totsiens, tot ons weer ontmoet,” sê hy en stap met lang treë die nag in.
Welsyn wil nie daarvan hoor dat ek in die huis bly terwyl Jack Weir op vlug is nie. Ek bly dus vir ‘n rukkie in ‘n skuiling vir mishandelde vroue. Maar die vrees verlaat my nooit. Die skuiling kan my nie teen hom beskerm nie. Hy besit my. Ek is sy vrou lewenslank en ek is sy besitting.