Skoppensboer

Een van die aangenaamste verrassings op die Afrikaanse musiekfront het onlangs plaasgevind met die heruitreiking van Coenie de Villiers se Skoppensboer. Dit is nou vir die eerste keer op CD beskikbaar.

Skoppensboer het nie net destyds vir De Villiers naam gemaak deur sy taalvaardigheid en musikale bekwaamheid ten toon te stel nie, maar het ook ‘n baken geword vir die fusie van Afrikaanse liriek en musiek.

Die kombinasie van die poëtiese kwaliteit van sy lirieke en eiesoortige sang aangevuur deur meesterlike musikale verwerkings laat Skoppensboer gemaklik sit op die rak saam met die beste van Afrikaans. Dit alles gesê, is dit ongelooflik om daaraan te dink dat die album in slegs sewe aande opgeneem is.

Dis nou al amper 20 jaar gelede dat Coenie de Villiers nog ‘n mylpaal behaal het met Skoppensboer deur een van die min “ernstige” musikante te word wat aanklank gevind het by die man op straat. De Villiers se lirieke is ingewortel in die Afrika en die Afrikaanse ervaring en daarom ook in die harte van die mense oor en vir wie hy sing. Wie van ons luister nie na “Karoonag” of “Namakwaland” sonder ‘n gevoel van erkentlikheid aan ‘n ou kennis nie? Dit is hierdie familiariteit in sy werk wat aan hom applous besorg van ieder en elk.

Skoppensboer spog nie net met die klassieke “Karoonag” en “Namakwaland” nie. Daar is die imposante titelsnit met ‘n stellig kontinentale gevoel, die digterlike “Slampamperlied”, “Liefdesversie” en “Druiweboer”, die immergroen en diepgewortelde “Karnaval” saam met David Kramer met liriek deur Pieter-Dirk Uys, die getrouheid aan die werklikheid in “Die Hofsaak”, “‘n Grenshotel is die lewe” en “Ballade van ‘n eenvoudige man” sonder om sy kenmerklike gesofistikeerdheid prys te gee en ‘n polsende “Sandy Bay Blues”. Jannie du Toit was verantwoordelik vir die harmonie op “Karoonag”, “Druiweboer” en “Slampamperlied”. Die CD bevat ‘n ekstra weergawe van “Karoonag” wat in 1985 in ‘n nagklub opgeneem is.

Die heruitreiking van Skoppensboer in ‘n spesiale versamelaarsalbum en daar is ongelukkig net ‘n beperkte oplaag beskikbaar.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar