Ek hou van jou

Altesaam 25 000 eenhede van Robbie Klay se vorige twee Vat 5-albums My naam is Robbie en Tokolosh is verkoop.

Robbie het op vyf-jarige ouderdom begin sing en sy gewildheid het geweldig toegeneem vandat hy in 1997 sy eerste album uitgereik het. Nou is die aantreklike 14-jarige jong man met die lang hare terug met ‘n meer volwasse album, ideaal vir die tienermark sonder om sy ander aanhangers te vervreem.

Robbie se stem is nou heelwat sterker en ryker en hy sing op Ek hou van jou ‘n aantal splinternuwe inheemse nommers wat spesiaal vir hom geskryf is – die titelsnit Ek hou van jou, Gee my jou nommer, Die lewe lyk doodreg en Ek wil net sing. Laasgenoemde is sy lewensverhaal vasgevang in ‘n rap-liedjie geskryf deur Deon Robbertse en Jurie Els.

Robbertse, die uitstekende jong verwerker, het die snitte op hierdie album behartig en Ian Vos is die ingenieur. Die album is opgeneem by De la Rey-ateljees wat sorg dat hierdie Robbie Klay album ‘n lekker nuwe klank het. Jurie Els is die uitvoerende regisseur.

Die album sluit Leon Schuster se komiese “Gautengeleng”, ‘n ou countrytreffer “Are you mine ” en ‘n paar lekker rocknommers in – onder meer die nuwe komposisie “B-B-Baby” geskryf deur Deon en Jurie. Steve Hofmeyer se “Alles vir niks” en “Ek weet, jy weet” en “Looking for freedom” van David Hasselhoff is ook daar.

By die vernuwing is daar ook ‘n heerlike outydse keurspel van bekende tradisionele Afrikaanse liedjies op die cd – hierdie keer met ‘n lekker danstempo. As ‘n bonussnit is daar die duet met Jurie Els “Plek vir twee”, ‘n inheemse skepping van Danny Anthill.

Die album spog, soos Robbie se vorige albums, met pragfoto’s van die jong ster en al die lirieke is in die cd-boekie beskikbaar. Robbie word gereeld op tv gesien, onder meer in programme soos Noot vir noot en Geraas en hy tree ongeveer 150 keer per jaar regoor Suid-Afrika op. Robbie Klay is hier om te bly.

Kobus

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar