Die Afrikaanse musiebedryf het ’n vars toevoeging met die vrystelling van Ruderick Heuer se eerste enkelsnit, Skree Vir Altyd. Heuer, ’n plaaslike talent uit Stellenbosch en ’n vierde geslag van die ikoniese Heuer Pianos-familie, bring nie net ’n liedjie nie, maar ’n hele nalatenskap na die verhoog. Sy passie vir musiek is nie net ’n stokperdjie nie – dit is in sy bloed, sy familiegeskiedenis, en sy geloof gewortel.

Sedert die ouderdom van vier het Ruderick agter die klavier ingeskuif, en vandag bemeester hy klavier, kitaar, tromboon en sang. Hierdie breedvoerige musikale agtergrond gee sy werk ’n besonderse diepte. Sy styl balanseer tussen Afrikaanse en Engelse rock en pop, met ’n opbeurende klank en lirieke wat nie net onthou word nie, maar ook gevoel word.

Die erfenis van die Heuer Pianos, wat in 1883 in Dortmund, Duitsland begin is en in Suid-Afrika ’n nuwe hoofstuk gekry het, leef voort in sy musiek. Van die verhale van sy oupa se oorlewing in die Tweede Wêreldoorlog tot die herbou van ’n familiebedryf in Kaapstad, vorm musiek ’n goue draad deur sy familiegeskiedenis.

Skree Vir Altyd, vervaardig deur Jean-Marc Meyer van Minnelied Records, is nie bloot ’’n enkelsnit nie – dit is ’n persoonlike liefdesbrief aan sy aanstaande bruid. Die lirieke vier onvoorwaardelike liefde, standvastigheid deur goeie én moeilike tye, en ’n toekoms geanker in geloof.

Ruderick beskryf dit so: “Hierdie song gaan oor hoe God iemand op my pad gesit het wat my lewe heeltemal verander het. Dit is ’n emosionele, liefdevolle huldeblyk aan haar, ons liefde en ons spesiale journey saam.”

Met ’n vrolike gevoel en ’n eerlike boodskap, vang die lied die gevoel van dankbaarheid en toewyding. Sleutel lirieke soos “Ek wil vir jou / Skree, vir altyd” beloof om ’n refrein te wees wat by luisteraars aanklank vind en lank bly speel.

Op die verhoog straal Heuer ’n warmte uit wat gevorm is deur sy jare se optredes as student in Potchefstroom. Hy glo vas dat musiek mense nader aan mekaar kan bring en swaar laste ligter kan maak. Sy optredes is bekend vir hul aansteeklikheid, egtheid en die gevoel dat jy deel van iets groter is.

Wanneer hy nie musiek maak nie, vind ’n mens hom in die see, op ’n fiets of tussen instrumente in ’n musiekwinkel – altyd omring deur die dinge wat sy passie voed.

Met hierdie debuut begin ’n nuwe hoofstuk in Heuer se loopbaan. Luisteraars kan uitsien na nog vele vrystellings in dieselfde gees – eerlik, roerend en met ’n doel.

Ruderick Heuer

Lewer kommentaar

Leave a Reply