KAAPSTAD – In ’n internasionale opname, wat duidelik deur iemand uitgevoer is wat nog nooit in die Suidooster vasgeloop het nie, is Kaapstad pas bekroon as die derde gelukkigste stad op aarde – net ná Kopenhagen en Tokio, en ver voor plekke soos Johannesburg en Potchefstroom, waar geluk net nog ’n abstrakte begrip is.
Volgens die verslag is Kapenaars “oor die algemeen tevrede met hul leefstyl, die natuurskoon, selfies op die Seepunt-promenade en die skoon blou lug met die Mavericks-vliegtuig wat daar bo draai.”
“Dis eenvoudig,” sê Mariska van Tonder, ’n oorvlytige influencer van Bloubergstrand met 17 000 volgelinge en nul ware vriende. “Wanneer ek soggens my flat white op die strand drink, voel ek so gelukkig dat ek sommer vergeet ek bly nog by my ouers.”
’n Amptenaar van die Stad Kaapstad, wat nie genoem wou word nie sê: “Ons is baie trots. Kaapstad is vol vriendelike mense wat altyd glimlag – veral as hulle jou R65 vra vir ’n parkeerplek of ’n flat White, of R18 000 vir ’n eenvertrek woonstel met net een venster.”
Plaaslike kenners meen Kaapstad se “geluk” het minder met werklike lewensgehalte te doen en meer met Instagram-filters. Die hoofnavorsingsbeampte van die Institute for Sunshine and Selective Sharing, dr. Bibi Joubert, verduidelik: “Wanneer jy elke dag ’n sonsondergang pos met #blessed en #capetownvibes begin jy glo jy’s gelukkig.
Die studie beklemtoon ook dat Kapenaars wêreldwyd uitstaan vir hul oorvriendelikheid. “Ons groet almal – selfs die seerowers van Blouberg,” sê ’n kelner in die Waterfront.
Sosioloë vermoed hierdie vriendelikheid is nie altyd opreg nie, maar eerder ’n oorlewingsmeganisme. Soos ’n Seepunt kugel verduidelik: “As jy nie vriendelik is nie, kry jy jou wynlys laaste of word jy sommer deur ’n e-bike gestamp. Ek’s nie seker of ek gelukkig is nie – maar as ek op Leeukop klim en niemand my vra vir geld nie, dan is dit genoeg vir my.”
En dalk is dit die geheim: ’n stad wat tussen wind, peperduur lewenskoste en te veel koffie nog altyd ’n glimlag kan hou – selfs al is dit net vir die foto.

