Dit is nooit maklik om die bekende agter te laat vir nuwe avonture nie. Maar sedert Jaid River die bekendheid van die Kaap verruil het vir Gauteng, het haar musiekloopbaan nog net van krag tot krag gegaan.
Haar nuutste enkelsnit, “Stad van Verlange”, is vroeër vanjaar saam met haar debuut-album, Verlanger, uitgereik en gaan juis oor die ervaring om agter te laat wat jy ken en die onsekerheid en twyfel wat daarmee gepaard gaan wanneer jy vir die eerste keer alleen in ’n nuwe stad of plek is.
’n Musiekvideo van dié kragtige ballade, wat sovêr baie goed ontvang word, is pas vrygestel en neem jou op ’n nostalgiese reis deur hierdie begaafde sanger en liedjieskrywer se lewe.
Die video bestaan uit ’n kombinasie van ou gesinsvideo’s en meer onlangse tonele wat in Jaco Smit se ateljee (waar 11 van haar album se liedjies opgeneem is) in Midlands Estate opgeneem is.
“Hierdie hele video is eintlik so nostalgies. Ons het ou gesinsvideo’s gebruik van toe ek en my sussies jonger was. Dis ’n herinnering van kinderlike onskuld en wys stukkies van wie ek is, waar ek vandaan kom, en die mense wat grootste rol in my lewe gespeel het. Toe en nou,” verduidelik sy. “Buiten vir my sussies (wat my verhoognaam geïnspireer het) en ouers, was ek ook bevoorreg om twee van my beste vriende, Jaco Smit (my vervaardiger en musikant) en Manelisi Mdaka (baskitaarspeler), in die video te hê.”
Net soos haar vorige video en publisteitsfoto’s, was GP van der Merwe, met Jaco van der Bank op tweede kamera, weereens aan stuur van sake tydens dié projek en is sy dankbaar vir die geleentheid om saam met mense te kon werk wat sy goed ken.
“Ek dink wanneer jy saam met vriende werk, is daar ’n ander dinamiek wat mense van buite af kan optel. Om saam met my ‘band’ te kon speel in die video was lekker en moeiteloos,” deel sy.
Jaid, wie se regte naam Jeanlie Minnie is, is in Potchefstroom gebore en het in George grootgeword.
Dié Pretorianer het in 2016 (op die ouderdom van sewentien) by restaurante en markte begin optree. In dieselfde jaar, het sy die geleentheid gekry om by die Karoo Stilfees op te tree saam met kunstenaars soos Joshua Na Die Reën, Lizandra Winter, Len Muller, en Jaco Van Der Merwe, en blywende vriendskappe is gevorm.
Nadat sy haar diploma in 2021 verwerf het, het sy in alle erns op haar musiekloopbaan begin fokus.
Sedert die amptelike vrystelling van haar debuut-album in Maart 2023, werk sy hard aan nuwe musiek en projekte saam met ander musikante en beplan sy om die land plat te toer met haar musiek.
Met “Stad van Verlange” se musiekvideo deel Jaid, net soos met haar lirieke, baie van haarself met luisteraars en sy hoop dié video sal mense herinner aan wat regtig belangrik is.
“Die boodskap is dat daar mense is wat jou vorm en dat daar ’n kinderlikheid is wat soms verlore raak soos wat jy ouer word, maar tog is daar ook dele wat bly, sekere goed kan jy nooit vergeet of verloor nie,” sluit sy af.
Lewer kommentaar