Ster in die donker

Wat moet ‘n mens maak wanneer klanke jou wêreld binnekom, ‘n wêreld wat vir jou geen gesig het nie?

Jy maak hiérdie klanke joune en gee dit lewe. Dit is wat Ster doen. Ster (Lissabon 1973) is blind gebore en het deur die jare ‘n manier van sien ontwikkel waarvoor jy nie oë nodig het nie. Sy voltooi in 1997 haar BMus-graad aan die Universiteit van Stellenbosch en is tans in Kaapstad woonagtig. Haar liefde vir musiek het haar genoop om die beelde wat sy oor die afgelope paar jaar waargeneem het in unieke komposisies te omskep, wat sy op klavier laat léwe. Die wortels van hierdie pragstukke lê in die genres van klassieke musiek, met elemente van jazz en wêreldmusiek.

Toe die Nederlandse sanger/digter en liedjieskrywer, Stef Bos, die eerste keer haar komposisies hoor, was hy nie net meegevoer deur die musikaliteit nie, maar het hy ook dadelik vir haar uitgenooi om haar werk by sy studio in die Laer Lande te kom opneem. Die beplanning is om binnekort hierdie opnames op CD vry te stel.

Volgens Bos het die donkerkonsert-konsep ontstaan met die bedoeling om vir die gehoor die geleentheid te bied om die musiek te ervaar uit dieselfde wêreld waaruit dit oorspronklik geskep is. ‘n Wêreld waar jy nie oë nodig het om te sien nie. ‘n Wêreld wat bestaan sonder visuele, lig-, of video-effekte.

In hierdie donkerkonsert word die gehoor dus geneem op ‘n reis na die kern van die musiek, wat dit opsigself ‘n uitsonderlike ervaring maak. “Ek wil graag die regie van hierdie vertoning doen omdat ek jare gelede ‘n besondere ervaring gehad het. Tydens ‘n eksperiment rondom smaak waaraan ek deelgeneem het, is ek geblinddoek en moes ek verskillende vrugte, geregte en bestanddele proe en van mekaar onderskei. Ek het toe ontdek dat die smaaksensasie meer intens is as wanneer ek sien wat ek gaan eet”, sê Bos. Hy voeg ook by dat hy en Ster met hierdie Donker-konserte dit ten doel het om vir die gehoor ‘n soortgelyke ervaring te bied.

Die vertoning word ‘n eenheid deurdat Bos van sy digwerk op band voorlees voor en gedurende die musiek. Oor hierdie nuwe uitdaging sê Ster: “Wat gebeur as klanke in jou wêreld kom woon? Klanke kan jou laat smelt en vries, sidder en bokspring tegelyk. Soms klouter en krioel hulle oormekaar soos ‘n gemaal van gesprekke in ‘n oorvol restaurant. Dan rek en strek en groei hulle uitmekaar en begin bons soos stemme in ‘n leë gebou. Soms wurm hulle hulle in jou wese in – warm en teer soos ‘n nuwe bondeltjie mens in jou arms! Of hulle bedwelm en omvou jou soos ‘n kamer vol wierook en kerse – malmaakmooi! Klanke kan jou aan enigiets laat ruik, voel of proe. Kom besluit maar self waarheen jy jou wil wegdroom saam met ons en die vleuelklavier.”

Ster in die donker is 30 Maart by die Klein Libertas Teater in Stellenbosch.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply