Die instrumentale groep Sterling EQ beskryf hul jongste CD as “’n huldeblyk aan hul Afrikaanse aanhangers, Afrikaanse musiek, Afrikaanse liedjieskrywers, en Afrikaans die Taal”.
Sterling Speel Afrikaans volg op die debuutalbum Nova, en hul DVD Sterling EQ Live. Die 15-snit album bestaan uit instrumentale weergawes van sommige van die mees legendariese Afrikaanse liedjies uit die 1970’s, -80’s en -90’s.
Sterling Speel Afrikaans is ‘n Five Seasons Entertainment produksie wat vervaardig is deur Riaan Steyn (met uitvoerende vervaardigers Carina Bruwer en Harold Schenk).
Sterling het in Maart 2009 hul suksesvolle debuutalbum Nova vrygestel, en in Februarie vanjaar hul DVD Sterling EQ Live. ”Virtuositeit was op die voorgrond in ons eerste album, so ons het besluit om in die tweede CD op die skoonheid van die melodie te fokus.”, sê Carina Bruwer, fluitis en leier van die groep. ”Die perkefte liedjies het vir ons op ons voorstoep gewag! Waar beter om te soek as in die ryk erfenis van Afrikaanse musiek? So kan ons nou ’n huldeblyk lewer aan Afrikaans en ons Afrikaanse aanhangers, terwyl dit ons ook in staat stel om die wonderlike melodieë met ons nie-Afrikaanssprekende gehoor te deel.”
Sterling het deur middel van sosiale netwerke kontak gemaak met hul Afrikaanse aanhangers, en hulle gevra van watter Afrikaanse liedjies hulle ”Sterling-weergawes” sou wou hoor. ”Ons is heeltemal oorval deur voorstelle, en moes op die ou end uit meer as 50 opsies kies om op die finale 14 te besluit.” Bruwer voeg by dat hierdie een van hul mees uitdagende projekte tot dusver was. ”Ons wou natuurlik iets opwindends en interessants maak van elke liedjie, sonder om te ver weg te beweeg van die oorspronklike trefkrag daarvan.”
Die 15 liedjies wat op die album verskyn sluit in “Voshaarnooi”, “Mannetjies Roux”, “Ramaja”, “Karoonag”, “Ek Wil Jou Ken”, “Ska Rumba”, “Jy is Vrou”, ’n prettige “TV1 Keurspel” en ander legendariese treffers.
