Toe ek uiteindelik groot genoeg was om belang te stel in meisies, maar te klein was om my belangstelling te laat geld, was die publieke swembad my redding. Woensdae het ek daar uitgespan om die vroulike geslag met my oë te verken. Dit is hier wat ek die mag van ‘n mooi lyf, met min klere om dit te bedek, leer ken het. Marie was die dorp se mooiste meisiekind en sy het dit geweet. Die ander meisies het nog ‘n kans gestaan, maar as Marie haar handdoek op die sement lang die swembad gegooi het was die speelveld net Marie s’n. Een een moes die res van die Evas die aftog blaas, want die seuns het net oë gehad vir Marie.
Soos Marie lyk die drie dames van Destinys Child ook goed in ‘n bikini en het hulle ook die veld skoongemaak van enige mededingers. Dit is dis nie om dowe neute dat hul nuwe album se titel Survivor is nie.
Die dames van DC het opmerklik meer volwasse geword in hul benadering tot musiekmaak. Was dit nie vir hul karige kledingstukke nie sou ek voorspel dat na aanleiding van die cd die volgende een ‘n Gospel-werk gaan wees.
DC sal nooit guru’s van musiek raak nie, maar vir sensuele vermaak kry jy nie veel beter nie.
6/10
