Dis Mozart, Bach en Verdi … maar in Engels en Afrikaans. Bill Flynn het dit reggekry om opera-musiek toeganklik vir elke Suid-Afrikaner te maak én dis boonop snaaks ook.
Bill Flynn se vierde CD, Tenors Racket, is pas uitgereik na die oorweldigende sukses en blitsverkope van sy vorige cd Gooi my ‘n Tenor. Sy eerste en tweede cd’s Toykaka en Amaboka was net so gewild gewees.
“Ons het die mark getoets met ses opera-snitte op Gooi my ‘n Tenor en die mense was mal daaroor,” sê Boet Pretorius, die vervaardiger van Tenors Racket. “Op publieke aanvraag het ons nóg ‘n cd saamgestel met nie minder nie as twaalf lekkerluistertreffers. Ek voorspel dat Tenors Racket self nóg gewilder gaan wees.”
Bily Flynn het nie bekendstelling in Suid-Afrika nodig nie. Dié veelsydige kunstenaar het hom al as akteur, verhoogkunstenaar, sanger van ligte Afrikaanse en Engelse liedjies en nou boonop ook as ‘n bevoegde operasanger bewys. Ons almal weet teen dié tyd dat as Bill Flynn betrokke is, daar baie gelag gaan word.
Boonop het hy lankal reeds bewys dat hy wel opera kan sing – Tenors Racket bevat ‘n hele paar musikale uitdagings waarin Bill met lof geslaag het.
Bill Flynn het twaalf van die gewildste en bekendste opera’s gevat en dit ‘n ander identiteit gegee. Tenors Racket bevat eietydse, eg-Suid-Afrikaanse lirieke oorlaai met skoon humor oor tipiese alledaagse Suid-Afrikaanse gebeure.
Soos ‘n maltese poedel wat al die mense op die strand op hol gehad het omdat die brak tydens ‘n lewensreddingskompetisie almal aan die enkels gebyt het! Of Meraai in haar crimplene mini-rokkie wat genoeg gehad het van haar geliefde se streke en hom die trekpas gegee het. En dan natuurlik ook die treurige tronkvoël wat betrokke was by wedstrydknoeiery en nou erg berou het…
Tenors Racket is juis vervaardig vir elke lid van die gesin. Oud en jonk sal die cd geniet omdat dit skoon humor is, sonder enige vulgêre grappies en lirieke. Die woorde is in die omslag ingevoeg sodat ‘n mens heerlik kan sit en saamsing.
Diegene wat gedink het opera is net vir die musiekpuriste bedoel, sal ‘n ander deuntjie sing nadat hulle dié CD gehoor het!
