“Soos die skemerson, is jy vir my.  Op die hoogste berg, sal jy my kry.  Uitkyk op die toekoms saam met jou”.  So begin die titelsnit op Alwyn Oberholster se gelyknamige nuwe album, Tussen Sterre Dans.  “Die album gaan oor die liefde”, sê Alwyn.  “Die lekker van twee mense wat mekaar ontmoet, verlief word en dan lief vir mekaar word.”  Die inspirasie vir Tussen Sterre Dans het Alwyn een aand onder die helder maanlig gepak, met die Melkweg se skitterende sterre in ‘n diep-donkerblou hemel.  “Tot die môre kom” is die derde enkelsnit vanaf die album.

 “Op die nuwe album vier ons elke aspek van die liefde”, vertel Alwyn.  “Behalwe vir die skoenlappers-in-die-maag-gevoel en die romanse, is die liefde ook soms laf en lig, prettig en stout.  Maar geen verhouding is bestand teen die lewe nie, en as ‘n mens oor die liefde praat, moet ‘n mens ook die hartseer en seerkry noem.  Die geheim van ware liefde lê egter in hoe ‘n mens daardie hartseer en seerkry hanteer, en of dit jou verhouding gaan maak of breek.  Die liefde verg toewyding.  Vlei, stry en verskil van mekaar.  Debatteer en kommunikeer met mekaar.  Inspireer en motiveer mekaar, en laat so die liefde élke dag gedy”.  En dit is waaroor die nuwe album gaan, sê Alwyn.

Lewer kommentaar

Leave a Reply