US Koor maak skoonskip

Die Universiteitskoor van Stellenbosch onder leiding van André van der Merwe, is die groot wenner by die agtste Internasionale Koorspele in Rusland wat Saterdag ten einde geloop het.

Die US Koor het eerste plekke en goue medaljes in drie kategorieë verower. In die kategorie gewyde á Capella het hulle 92% behaal, in die kategorie vir geestelike liedere 94% en in die afdeling vir kontemporêre musiek 98%. Dit is die hoogste punt toegeken in enige van die 27 kategorieë waarin daar die afgelope 10 dae meegeding is. Met hierdie prestasie behou die USK hul eerste plek op die Interkultur-ranglys vir beste internasionale nie-professionele kore, ’n posisie wat hulle reeds sedert 2012 beklee.

As verdere bonus het die USK ook ’n spesiale CD-kontrak losgeslaan in die gesogte Choirs of the World-reeks.

Die Internasionale Koorspele word tweejaarliks aangebied en vanjaar het meer as 300 kore uit 36 lande deelgeneem. Dit is die grootste koorkompetisie ter wêreld. Interkultur het vroeër aangekondig dat die negende Internasionale Koorspele in 2018 in Tshwane, Suid-Afrika sal wees.

Die USK bestaan uit 120 studente en André van der Merwe is reeds die afgelope 12 jaar dirigent van die koor.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar