Musikant Ryno Velvet is ’n boorling van Suid-Afrika se eie Rock City, Bellville. Quintus van Rensburg het vyf vrae aan hom gestel.

Wat het jou geïnspireer om ’n loopbaan in musiek te volg, en wie (of wat) was jou belangrikste musikale invloede?
Vir my is dit musiek self. Ek speel en skryf musiek van dat ek kan onthou en om ’n loopbaan daarvan te kon maak was en is werklik ’n eer. Dat mense belangstel om te luister bly ’n seëning en terwyl dit die stand van sake is gaan ek aanhou so lank moontlik. Van my grootste invloede was nog altyd die mense saam met wie ek werk, die vervaardigers en musikante. Ek is gaande daaroor as ’n idee in ‘n lied verander en van daar af ingekleur word met almal se bydrae. Dit inspireer my om altyd harder te werk en die grense te druk as dit kom by die skryfproses.
Hoe sou jy jou musiekstyl beskryf, en watter elemente of genres inkorporeer jy in jou musiek?
Ek het al oor die jare my hand probeer aan menigte style van rock musiek, maar dink ek het my tuiste gevind by kontemporêre pop rock. Ek dink dit is mooi manier om te sê en te beskryf dat ek baie style kan inkorporeer onder een dak.
Is daar enige spesifieke uitdagings wat jy as ’n Afrikaanse sanger in die gesig staar, indien wel, hoe oorkom jy dit om sukses in die bedryf te behaal?
Ek dink die Afrikaanse musiekbedryf is nog jonk en ontwikkel elke jaar meer en meer. Om te bieg, ek kan myself indink dat die ouens in die alternatiewe sektor soms kan gal braak dat kanale soms skraps raak. Terselfdertyd dink ek ons het beter-as-ooit kletsrymers wat opspraak maak en orkeste wat dieselfde nommers trek as legendariese popsangers. Dus glo ek nie daar is werklik uitdagings nie, net ’n rede om harder werk.
Is daar enige spesifieke boodskappe of temas wat jy in jou musiek wil oordra, en wat hoop jy neem luisteraars weg van jou liedjies?
Daar is nie meer so swaar ’n boodskap wat ek wil oordra nie. Dalk in van my vroeër albums het ek ’n sekere narratief gejaag, maar deesdae dink ek dit is meer ’n gevoel of ’n emosie wat die belangrikste is. As ek dit by luisteraars kan ontlok, dan het ek en my medepligtiges ons goed van ons taak gekwyt.
Was daar dalk ’n onvergeetlike oomblik in jou musikale loopbaan wat ’n beduidende impak op jou persoonlik en professioneel gehad het?
Daar is beslis, en baie. Dit is werklik fenomenaal, die goeie mense wat jy ontmoet op die pad, wat vriende word en bly. Daar is ontelbare goeie tye, ondersteuning en bystand wat gebeur agter die skerms, wat ek baie dankbaar oor is, wat elke dag ’n impak het, terwyl ek gelukkig genoeg is om musiek te kan maak vir ’n lewe. Om een oomblik uit te sonder gaan onmoontlik wees want daar was eenvoudig net teveel kere waar ek nie my geluk kon glo nie. Ek is nederig dankbaar vir elke een.
Ryno Velvet se jongste enkelsnit “Volkswagenbussie” het onlangs verskyn:
“Tussen die lyne” wat hy saam met Jan Blohm sing is 1 van my favorite songs ! Wonder wat skeef geloop het tussen die twee..