Die op-en-wakker en unieke Country groep, WEST, kan gesien word by die Atterbury Teater op 27 Augustus 2024 om 19h00. Besprekings kan by www.seatme.co.za gedoen word of skakel 011 815 3000. WEST se vertoning word aangebied met die vriendelike samewerking van die Lefra Produksies, Ambassador Executive Drive, Van Loveren Wyne, Hollywood Costumes, Lift, Britz Couriers and Removals, Hollywood Costumes, LTickets, Lekker FM, Overvaal Stereo en WS Pianos.

Die Amerikaanse countrylegende Charley Pride het een keer opgemerk: “It isn’t reasonable to expect that everyone in the world is a country music fan.” En toe met ‘n glimlag bygevoeg: “Not yet, anyway.” Aanhangers van countrymusiek en musiekliefhebbers in die algemeen kan gerus kennis neem van WEST, die treffergroep bestaande uit Ernie Bates (van Overtone-faam), Mac Young en Hugo Hewitt. Die driemanskap blaas nuwe lewe in countrymusiek met hulle harmonieuse vertolking van countrytreffers wat nie net gesoute aanhangers tevrede sal stel nie, maar ook van ‘n nuwe generasie aanhangers maak. Dis dan ook heel gepas dat Charley Pride se “I’m So Afraid of Losing You Again” een van die treffers is op WEST se debuutalbum. Die groep het intussen nog twee albums vrygestel – “WEST Two” en “WEST Tribute”. Laasgenoemde bring hulde aan legendes Don Williams, Waylon Jennings en Charley Pride.

Die naam WEST bring hulde aan die Amerikaanse country en WESTern-beweging. Volgens Ernie maak niemand country-musiek soos die Amerikaners nie. “Met hierdie country-herlewing wat die afgelope drie jaar in Suid-Afrika plaasgevind het, het WEST spontaan ontstaan deur die groot aanvraag van die publiek”, sê Mac. “Ons het besluit om WEST ‘n kans te gee en ‘n gaping wat daar duidelik in die mark is, te vul. Ons doelwit is natuurlik om vir so lank as moontlik nuwe, kwaliteit country-musiek in Suid-Afrika vry te stel”. Met die intrapslag het WEST besluit om egter meer bekende musiek op hulle albums in te sluit en sodoende die meer klassieke county-treffers aan ‘n nuwe generasie bekend te stel.

Hugo Hewitt, een van die lede van WEST sê dat alhoewel hulle onbeskaamd ou country-treffers afstof en nuwe lewe gee, het hulle ook reeds ‘n paar van hul eie bekende treffers in die mark. “Dis is vir ons heerlik om die ou treffers te sing soos FROM A JACK TO A KING, BEAUTIFUL WOMAN, AMANDA en vele meer. Ons aanhangers het egter by elke konsert gevra vir ons eie liedjies. Ons is baie opgewonde om te kan sê dat ons eie liedjie, TRUE TO THE END, reeds ‘n groot treffer is met meer as 500 000 “views” op You Tube. Altyd vir ons interessant as mense vir ons by konserte vra maar hoekom sing ons nie ons eie treffers nie, dan is dit altyd lekker om te sê – maar ons het so pas TRUE TO THE END, ons eie treffer, gesing,” sê Hewitt.

WEST doen ook die voorprogram met SMOKIE se Suid-Afrikaanse toer van 18 tot 22 September 2024.

WEST 2023
WEST 2023

Lewer kommentaar

Leave a Reply