T**** skryf:
“Ek is biseksueel. Ek het ‘n vriend wat een aand by my geslaap het en ons het met mekaar gespeel. Masturbeer en gesoen en so aan. Ek weet nie of hy so is nie want ons het dit net die een aand gedoen terwyl ons onder die invloed was. Nie erg nie ons het net ciders gedrink. Ons het nie weer daaroor gepraat nie maar ek wil dit weer met hom doen. Dit was so een jaar gelede. Hoe kan ek uitvind? Wat moet ek doen???”
Ben:
Ek dink dit is baie eenvoudig. Vra hom.
Verkieslik moet julle nugter wees as jy hom vra. Nooi hom na ‘n koffiekroeg iewers waar daar nie te veel mense is nie en praat met hom oor wat gebeur het.
Berus jou by sy antwoord.
Naamloos skryf:
“Beste Ben,
Ek sal in Oktober 20 jaar getroud wees. Ons het een dogter van 12. En ek is gelukkig in die posisie dat ek van seks hou, en ek het ´n man met ´n groot apteit vir seks en nabyheid. Daar is egter ´n effense slang in die gras, soos met baie verhoudings.
My man is biseksueel, en ek is nie. Ons het omtrent 10 jaar gelede begin om te “swing”. En my man bring ook gereeld ´n vriend na ons bed toe vir ´n threesome. Ek vind egter deesdae dat my man meer eksklusief anale seks wil hê. Dit is egter vir hom ´n vreeslike turn-on om my dop te hou met ander mans.
Ons sekslewe het egter die laaste jaar of so agteruit begin gaan. My man wil selde alleen intiem met my wees. Sodra daar nog ´n man in die kamer is, sal hy sorg dat ek gelukkig is. Gewoonlik deur die man aan te moedig om seks met my te hê, en dan self met my te wees, terwyl die man se saad nog binne my is. Om die rede het ons ook onbeskermde seks met mans wat hy by die huis aanbring. Ek besef dat daar vele risiko´s daaraan verbonde is. Ek moet erken dat my man baie kieskeurig, en versigtig is. Ek het nog nooit enige siekte, of selfs ´n ontsteking gehad nie.
Wat is my probleem, wonder ek………….
Ek is baie eensaam, daar is nie meer die nabyheid wat ek altyd met my man gevoel het nie.
Ek voel dat ek nie meer goed genoeg is vir hom nie.
Daar is altyd die risiko van STD’s en AIDS.
Wat as my dogter uitvind?
Is ek nie dalk net so afhanklik van hierdie mans in my bed as my man nie?
Wat as ek die dag nie meer so aantreklik is nie, en my man/s belangstelling in my verloor, gaan ek dit ooit geniet met slegs een man?
Ek sal seker nooit ´n antwoord op die brief kry nie, maar dit het my dalk goed gedoen om net daaroor te praat. Miskien kan iemand iets leer hieruit. Dit sal great wees as jy my kan antwoord”
Ben:
Seksuele aangetrokkenheid en/of seksuele omgang met beide mans en vrouens word as biseksualiteit beskryf. 5% van alle mense is na beraming biseksueel.
Jou geval is weer ´n goeie voorbeeld van hoe belangrik dit is vir ons om duidelikheid te kry oor ons eie seksualiteit en seksuele oriëntasie en die van ´n voornemende huweliksmaat.
Volgens sekere navorsers toon biseksuele persone min/geen belangstelling in langdurige emosionele verhoudings nie. Uit ´n ander hoek kom ook navorsing wat toon dat biseksuele persone geneig is om meer homoseksueel as heteroseksueel te wees.
Verder moet ons ook daarop let dat seksualiteit nie noodwendig konstant is nie, maar enige tyd kan verander.
Interessant dat meer as een bron daarop dui dat biseksuele vrouens psigologies beter aangepas is as biseksuele vrouens.
Ongelukkig word daar gereeld probleme ervaar in huwelike waar net een persoon biseksueel is. Meesal omdat die homoseksuele behoeftes nie na wense bevredig word nie.
Navorsing dui daarop dat een-derde van alle biseksuele persone getroud is. ´n Huwelik met ´n biseksuele persoon kan net slaag indien die huweliksmaat die biseksualiteit VOLKOME aanvaar.
Indien jy nie jou man se seksuele oriëntasie kan aanvaar nie het het jy ´n baie geringe kans vir ´n gelukkige getroude lewe. Daarom moet mens hierdie sake vooraf probeer uitklaar, hoewel dit ook nie altyd moontlik is nie.
Die onbeskermde seks is vir my totaal onaanvaarbaar. Jy speel met jou lewe. Jou dogter sal jou verkwalik as jy haar alleen laat en nie noodwendig oor wat binne julle slaapkamer gebeur nie. Sorg van nou af dat elke man met wie jy seks het ´n kondoom dra, jou man inkluis!
My wens vir jou is dat jy so gou as moontlik ´n professionele persoon gaan sien vir terapie sodat jy duidelikheid kan kry oor jou probleme en persoonlike behoeftes.

