Ek is nou 40 en 20 jaar getroud. Het twee kinders wat byna uit die skool is.
Ek het in my drome nooit kon dink dat ´n ander man in my sal belang stel nie, maar heelaas het dit gebeur. Ek weet hoekom, maar wat om daarmee te doen, is die vraag. My man is ´n baie groot man en dus is ons sekslewe energieloos en onromanties. Nou het die man in my lewe gekom. Hy is ook getroud en ek weet hy stel ook meer in ´n ander seksuele ervaring belang as in myself as persoon. Ek ken hom al ´n geruime tyd en vind hom baie sexy en energiek. Ek smag na ´n hemelse seksuele sessie en weet ek sal dit nooit by my eie man kry nie. Die ander man en ek het al indirek gepraat daaroor en ek weet as ek net ja sê, kan dit gebeur, maar ek sien nie kans vir die waagstuk nie. As dit nie was vir twee gesinne wat daaronder kon ly nie, sou ek dit oorweeg het. Gee tog raad. Ek dink net daaraan dat my lewe verby gaan en eendag sit ek stokoud en verrimpeld in ´n oue tehuis!
– Me Anoniem
Ben:
Me Anoniem,
Die gedagte van ´n ander bedmaat en nuwe seksuele ervarings is altyd opwindend, maar, soos jy tereg noem, is die pap nie altyd die sous werd nie. Sulke verhoudings is meeste van die tyd baie moeilik en emosioneel dreinerend.
Ek glo nie daar is fout met jou gedagtes oor oud en verrimpeld nie. Iets sal aan die saak gedoen moet word en die beste persoon vir die taak is JY.
Ek sou voorstel jy begin deur met jou man te praat oor jou/julle seksuele begeertes. Vertel hom van jou vrese oor oud en verrimpeld. Pasop tog net dat jy hom nie seksueel ontoereikend laat voel nie. Hulle ego’s is maar broos. Wees knaend, maar met ´n glimlag op jou gesig.
Indien daar geen reaksie is nie word dit tyd vir ´n meer radikale benadering. Verlei hom! Neem die hef in die hand! Doen wat JY wil! Laat hom dinge doen wat JY wil hê! Wees knaend, op ´n sletterige manier!
Nog geen reaksie na ´n paar weke nie? Dan word dit tyd om ernstig met hom te praat. Op hierdie stadium moet jy dalk ernstige oorweging gee aan terapie.
Begin nou en begin positief!
Dis altyd half styf en NIE half slap nie.
