J***** skryf:
“Ek en my vrou is Februarie getroud, sy het die huis verlaat 3 maande terug. Sy sê sy wil nie probeer nie en sê sy het my nie lief nie. Ons het deur baie finansiële probleme gegaan die afgelope jaar. Dan het ons geld en dan nie. Ek het haar baie dinge belowe en kon dit nie gestand doen nie omdat ons geldelik ingedoen was en ek alles verloor het. Ek het nou ´n vaste werk, maar sy wil nie probeer nie. Ek het haar lief en wil nie opgee nie. Hoe maak ek om haar te oortuig dinge sal beter wees en alles sal kan uitwerk.”
Ben:
Geld is een van die grootste redes tot konflik in meeste verhoudings.
Miskien moet paartjies ook vir finansiële berading gaan voor hulle trou. Geld gaan een of ander tyd ter sprake kom en julle gaan nie altyd saamstem oor hoe dit spandeer moet word nie. Jy verstaan nie altyd hoekom sy NOG klere moet hê nie en sy wil nie weet hoekom jy nog ´n stuk elektriese gereedskap moet kry nie.
Ek dink nie jy gaan haar sommer mondelings kan oortuig nie Olie. Ek dink jy sal haar moet wys. Indien jy vir haar wys dat jy jou werk kan hou en julle kan versorg sal sy dalk weer aandag aan jou gee. Wees ook versigtig met beloftes. Onvoorsiene omstandighede het ´n slegte gewoonte om enige tyd kop uit te steek.
Indien jy bewys het dat jy volwasse genoeg is om met geld te werk en sy stel steeds nie belang nie, dink ek jy moet jou energie elders gaan spandeer. Daar is ´n tyd om te besef dat dit verby is.
