’n Dolfyn is ’n soogdier wat in water lewe. Die naam is afkomstig van die Griekse delphis wat beteken met ’n baarmoeder. In Afrikaans is vroeër algemeen na dolfyne verwys as seevarke.

In Suid-Afrika is daar reeds 19 spesies dolfyne gesien. Internasionaal is daar 32 spesies in totaal. Hulle leef in groepe van so klein as 12 tot so groot soos 100 000.

Die dolfyne wissel in grootte van so klein as 1,5 m in lengte en 50 kg in massa, tot amper tien meter en 7 000 kg. Die mannetjies is gewoonlik groter as die wyfies. Die dier se brein is groot en het ’n hoogsontwikkelde korteks. Hulle is baie intelligent. Die dolfyn slaap nooit baie diep nie, aangesien slegs die helfte van die brein op ’n keer rus.

Dolfyne kommunikeer met mekaar deur ’n wye verskeidenheid van kliek-, fluit- en ander geluide. Hulle hoor en sien uiters goed. Onderwater gehoor word aangehelp deurdat die kakebeen die klanktrillings gelei na die middeloor. Hulle tassintuig is ook goed ontwikkel, asook hul smaaksintuig, maar hulle kan nie ruik nie.

Dolfyne lewe gewoonlik in vlak water, of bly naby aan die oppervlakte. Hulle is vinnige swemmers en jag veral vis en seekat. Prooi word gewoonlik heel ingesluk.

Die voortbestaan van hierdie diere word hoofsaaklik bedreig deur menslike aktiwiteite.

Interessant: Die moordvis behoort aan dieselfde familie soogdiere en is dus ’n dolfyn.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply