Die Suidoosterfees nooi vervaardigers, regisseurs en teatermakers uit om hul voorstelle vir 2020 produksies vir oorweging aan te stuur. Die 17de Suidoosterfees met die slagspreuk ʼn Fees vir Almal vind aanstaande jaar vanaf

27 April tot 3 Mei 2020 in Kaapstad plaas.

Die inskrywingsvorm is op die Suidoosterfees webblad www.suidoosterfees.co.za beskikbaar en kan na suidooster@media24.com gestuur word. Alle produksievoorstelle moet die volgende inligting insluit:

  1. Naam en genre van produksie
  2. Sinopsis, taal, tydsduur en ouderdomsbeperking
  3. Stelontwerp en “tech rider” (tegniese behoeftes)
  4. Produksiespan en kunstenaars betrokke
  5. Motivering vir die insluiting van jou produksie by die Suidoosterfees
  6. Volle begroting (voltooi templaat op webblad)
  7. Kontakbesonderhede (e-pos, telefoonnommer plus alternatiewe kontaknommer)

Diegene wat aansoek doen vir ʼn Jong Sterre produksie kan in die volgende kategorieë aansoek doen:

  1. Jong Sterre debuut-produksies (alle genres)

Neem kennis dat slegs debuut-produksies waarby jong skrywers, kunstenaars en regisseurs betrokke is, oorweeg sal word. Die sluitingsdatum vir produksie-inskrywings is 5 Julie 2019. ‘n Kortlys van Jong Sterre debuut-produksies wat deurdring word op 19 Julie 2019 aangekondig. Hierdie produksies word tussen 29-31 Julie aan ʼn paneel van kenners voorgelê en die suksesvolle produksies vir die 2020 fees word op 5 Augustus 2019 aangewys. Suksesvolle produksies sluit aan by ʼn mentorskap-program en woon relevante werkswinkels vanaf Oktober 2019 tot April 2020 by. Drama-produksies wat deurdring sal in ag geneem word om die kreatiewe teksontwikkelings-skryfskool by te woon, soos hieronder uiteengesit. 

  • Jong Sterre debuut-dramateksprojek (in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting)

Vir die Jong Sterre dramateks-kategorie het die Suidoosterfees hande gevat met die Jakes Gerwel Stigting se nuwe teks-skrywersprojek. Dramaturge wat aan die begin van hul loopbaan staan, word uitgenooi om hul nuutgeskrewe dramatekste, of ʼn uittreksel daaruit, tesame met ʼn kort CV aan francois.abrahams@media24.com in te stuur vir keuring. Die sluitingsdatum vir dramatekste-aansoeke is 5 Julie 2019. ʼn Kortlys van teks-skrywers word op 19 Julie 2019 bekend gemaak en tekste word op 1 en 2 Augustus 2019 aan ʼn paneel van kenners voorgelê. Suksesvolle kandidate van hierdie kategorie sal ook op 5 Augustus 2019 bekend gemaak word. Hierdie kandidate woon ʼn kreatiewe skryfskool by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-skrywershuis in Somerset-Oos in die Oos Kaap by tussen 4-25 Oktober, met Amy Jephta as mentor. Die reis- en verblyfkostes van die jong skrywers sal deur die Jakes Gerwel Stigting gedek word. Hierdie geselekteerde tekste word dan tussen November 2019 en April 2020 in samewerking met professionele mentors ontwikkel om by die 2020 Suidoosterfees opgevoer te word.

Vir meer inligting of hulp met die aansoekproses kontak gerus vir Francois Abrahams by 021 406 2456 of e-pos suidooster@media24.com Vir meer inligting oor die teks-skrywersprojek kontak gerus vir Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, by theo@jgf.org.za

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar