Agent Snoet en die hondelewe

Dié “gatskop spy-storie” is ʼn aksie-musiekspel in die ware sin van die woord en ʼn werklike eerste vir die Suid-Afrikaanse toneel- en musiekbedryf.

Só beskryf Nita Cronjé, uitvoerende vervaardiger van Agent Snoet en die hondelewe, die wese van hierdie produksie wat deur die ATKV vervaardig is.

Die verhoogproduksie is gemik op die tienermark. Agent Snoet is ʼn Afrikaanse “James Bond”- musiekspel gevul met drama, intrige, dapper helde, skurke, mooi meisies, dans en humor wat gaan sorg vir ʼn onvergeetlike teater-ervaring. Agent Snoet en sy hele gevolg is byderwets en tegnologies gevorderd met ʼn super-moderne stel, animasie-projeksies op LED-skerms en onkonvensionele kostuums wat almal gaan verras!

Die musiekspel is gegrond op Francois Bloemhof en Alistair Ackermann se baanbreker-Afrikaanse strokiesreeks.
ʼn Bekwame span staan aan die stuur van hierdie ATKV-produksie. Die regisseur is Lizz Meiring, die teks is geskryf deur Schalk Schoombie en musiek deur Herman van den Berg.

Die rolverdeling spog met bekende name soos Jolette Odendaal, Jill Middelkop en Nadia Beukes. Die nuwe talent wat in Agent Snoet te siene is, gaan ook groot opslae maak!

Agent Snoet en die hondelewe is iets heeltemal nuuts in vergelyking met die vertaalde produksies wat skole jaar na jaar opvoer.

“Hopelik kan die prentjie omgedraai word en kan ons in die toekoms ons eie, inheemse musiekspele skep en opvoer,” het Cronjé gesê.

Agent Snoet en die hondelewe
Agent Snoet en die hondelewe

Optredes sal nie beperk wees tot kunstefeeste nie. Oor ʼn tydperk van sowat ʼn jaar gaan die produksie by groot venues regoor die land opgevoer word en gaan soveel moontlik leerders en gesinne die geleentheid kry om dit te kan sien.

Die ATKV gaan met skole saamwerk om aan hulle die geleentheid te bied om Agent Snoet as fondswerwingsprojek te benut.

“ ʼn Skool kan as “gasheerskool” vir die produksie in ʼn spesifieke dorp of stad optree, indien die venue aan ons tegniese vereistes voldoen. Ons sal skole ook bystaan met bemarkingsaksies,” het Cronjé gesê.

Agent Snoet en die hondelewe gaan die wese van Afrikaanse musiekblyspele heeltemal verander en beloof om een van die teater-hoogtepunte van 2011 te wees.

Agent Snoet se rolverdeling is soos volg:
Rolverdeling:
Agent Snoet: Danie Putter
Felino: Eloise Clasen
Agent Lippe: Andre Lotter
Woefter: Jill Middlekop
Veearts/Prof Pipet: Chris van Rensburg
Sjef/Agent O: Adrian Alper
Suzette/Penny: Nadia Beukes
Juffrou Niemand: Lizelle de Klerk
Leanie Miaau: Lindi Delport

Produksiespan:
Regisseur: Lizz Meiring
Teks en lirieke: Schalk Schoombie
Musiek en lirieke: Herman van den Berg
Ontwerp en beligting: Kosie Smit
Tegniese bestuurder: Johan Hendriksz
Choreografie: Neels en Eloise Clasen
Kostuums: TJ Don

Agent Snoet en die hondelewe Toerprogram

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar