Skop 2005 af met ‘n lekkerlag, loslit komedie, As die Kat weg is.
Die Afrikaanse verwerking van die oorspronklike stuk deur Johnnie Mortimer en Brian Cooke (skrywers van gewilde tv-reekse soos Three’s Company) is deur Pierre van Pletzen gedoen, wat ook die regie waarneem.
In As die Kat weg is. beplan Marie Pieterse, gespeel deur Lizz Meiring, ‘n tweede wittebrood vir haar en haar man, Neels (David Clatworthy). Wanneer haar snobistiese suster, Louise (Rika Sennett) egter haar intrek in hulle dupleks-woonstel neem, omdat sy vermoed dat haar man, Sarel (James Borthwick), ‘n verhouding het met sy sekretaresse, Jennifer (Natasja Jacobs) – besluit die twee susters om eerder saam op vakansie te gaan.
Sarel oortuig vir Neels dat hulle hierdie geleentheid nie weer sal kry nie, en dat hulle hul kans moet benut.
Hulle neem vir Jennifer en haar vriendin Suzie (Anneri Wessels) uit.
Maar is die muis baas as die kat weg is.?
James Borthwick wat die rol van Sarel vertolk, het geen bekendstelling nodig nie. Verlede jaar is KKNK en Aardklop-feesgangers trakteer op Tsjechof se Oom Wanja en was hy ook te sien in Janice Honeyman se pantomime Cinderella waarin hy Piet Platsak gespeel het. Borthwick se rolle in Paul Slabolepszy se sport komedies (Life’s a Pitch) maak van hom ‘n beminde en geliefde akteur op die Suid-Afrikaanse verhoog.
Met meer as veertig teaterproduksies op haar kerfstok bly Borthwick se wederhelf Rika Sennett ‘n nederige vrou, diep geanker in haar kerk en geloof. Sy beskou haarself eerstens as eggenote, ma en kategeet en laastens as aktrise. Sy vertel sy het op ‘n laat ouderdom weer behoefte gekry om by die kerk in te skakel. Sennett sal onthou word vir rolprente soos Snip en Rissiepit en het onlangs weer teruggekeer na ‘n gunstelingmedium, televisie, en wel in die gewilde sepie Egoli. Verlede jaar was sy te sien in die solostuk Hartstog wat sy self geskryf het.