Bekendes lees kinderstories voor

Akteur, Gys de Villiers, is die nuutste bekende naam om hom by die voorlesers van Anna Emm se kinderstories te voeg. Hy het spesiaal ‘n tydjie afgeknyp tydens sy besige speelvak by die Baxter teater in die verhoogstuk, Doodsnikke saam met Anna-Mart van der Merwe, om ‘n draai in die studio te kom maak.

Hy is deel van ‘n groep bekende akteurs wat onlangs die stemme agter Anna Emm se gewilde kinderstories geword het. Anna het die afgelope paar jaar reeds meer as 800 oorspronklike Afrikaanse kinderstories op CD vrygestel, waarvan die nuutste CDs is: Speurder Morris Muis voorgelees deur Antoinette Louw, Die Apies voorgelees deur Vicky Davis, Vier Wense voorgelees deur Dorette Potgieter, ’n Honger Gormajors voorgelees deur Anrich Herbst, en dan Spiertier die Mier voorgelees deur Gys de Villiers.

Spiertier die Mier bevat 4 stories oor ‘n miertjie wat op ‘n plaas in die middel van nêrens woon. Op ‘n dag help die miertjie ‘n engel wat haar goue sandaal verloor het, en as beloning bied sy vir hom ‘n fles suikerklontjies aan. Maar dis nie gewone suikerklontjies nie, sou die miertjie gou uitvind – wanneer hy een van die suikerklontjies in sy kies sit en daaraan begin suig, word hy vreeslik sterk! Dan word hy Spiertier die mier, en kan jy enigiets doen …

In die tweede storie op die CD moet Spiertier die mier vir ou “Slang die sleg” ‘n les leer, en in die derde storie help hy die skilpaaie toe “Aaklig die aasvoël” die skilpadeiers steel. In die laaste storie op die CD is daar ‘n dief op die plaas wat die hoenders steel, en die diere vra vir Spiertier die mier om te help. Maar daar wag ‘n verrassing op die miertjie …

Gys de Villiers se unieke “rasperstem” gee lekker atmosfeer en unieke karakter aan hierdie plaasstories, en die CD is beslis ‘n móét vir elke Afrikaanse kind se storie-versameling.

Spiertier die Mier en ander stories is by Anna Emm Productions teen R80 elk.

Besoek www.AnnaEmm.co.za vir meer inligting oor Anna Emm Productions se produkte of skakel 021 911 5618.

Gys de Villiers
Gys de Villiers
Antoinette Louw
Antoinette Louw
Vicky Davis
Vicky Davis
Dorette Potgieter
Dorette Potgieter
Anrich Herbst
Anrich Herbst

Lewer kommentaar

Leave a Reply