Boland-konserte

Kaartjieverkope vir Kunstekaap se drie spesiale Boland-konserte in die Paarl en Wellington het pas geopen.

Die eerste konsert is op Woensdag, 28 Julie in die Paarl met ´n verdere twee konserte op Vrydag, 30 Julie in Wellington. Die konsert in die Paarl vind om 19:00 (7 nm) in die saal van die Polisiekollege plaas en die Wellington-konserte word om 15:00 (3 nm) en 19:00 (7 nm) in die CP van der Merwe-saal in Wellingtong gehou.

Aldrie konserte bestaan uit ballet- en operatreffers van Kaapstad se twee professionale geselskappe.

Die balletprogram bestaan uit solo’s, tweepasse en ensembles uit verlede jaar se Classic Highlights met die bekorende musiek van Tchaikovsky, Glazunov en Bizet, asook hoogtepunte uit die uiters gewilde Swingtime at the Ballet van Sean Bovim waar ballet ´n nuwe baadjie aantrek en die klassieke dansstyl lewe gee op die maat van jazzmusiek uit die dertigs en veertigs.

Bolanders sal die voorreg hê om van die balletsterre van Kaapstadse Stadsballet in aksie te sien. Dit sluit in die danspare van Tracy Li en Daniel Rajna asook , Marrianne Bauer en Johnny Bovang wat saam met die geselskap optree.

Die operaprogram bied aan gehore die geleentheid om opera as ‘t ware te ontdek met die uitvoering van Monde and the Magic Box. Dit is ´n nuwe, energieke hip-hop vertoning met Kaapstad Opera se vokale ensemble wat die storie vertel.

Die verhaal van, Monde, gaan oor ´n tiener wat op ´n opwindende reis geneem word en treffers uit operas en blyspele beleef. Uittreksels uit La Traviata, Turandot, Fledermaus, West Side Story en Les Miserables behoort by oud en jonk byval te vind.

Lewer kommentaar

Leave a Reply