Die 2013 Absa KKNK program

Die Absa KKNK het by die programbekendstelling van die 19de fees ’n lywige program aangekondig wat 54 debuutproduksies insluit, sowel as produksies wat gehore elders in die land aan die praat gehad het.

Die Uitvoerende Hoof van die Absa KKNK, mnr. Brett Pyper, het by die Programbekendstelling, wat by die Kasteel in Kaapstad plaasgevind het, gesê vanjaar se fees bied ’n breër keuse van kuns en vermaak vir die hele gesin. “Daar is ’n groot toename in oorspronklike werke (54 debuutproduksies vanjaar teenoor 2012 se 37), waaronder 22 toneelstukke, 18 musiekteater en kontemporêre musiekproduksies, sewe klassieke musiekuitvoerings, vier spesiaal saamgestelde woordkunsprogramme, twee kraakvars kinderteaterstukke en een hoëprofiel nuwe dansteaterproduksie,” sê Pyper.

Pyper sê van die hoogtepunte op vanjaar se program sluit in die debuutproduksie Balbesit, uit die pen van die bekroonde dramaturg Saartjie Botha, asook die musiekproduksie Dorothy / 60 Jaar wat die lewe en musiek van Dorothy Masuka gaan vier. Masuka gaan die verhoog deel met Laurika Rauch, Karen Zoid, Zolani Mahola en die Africa Voices Koor. “Met soveel om van te kies, met die pragtige en feestelike Klein Karoo as ons verhoog en skilderdoek, bly Oudtshoorn Suid-Afrika se leidende kuns-en vermaakbestemming oor die Paasvakansie. Ons maak reg om julle met skeppingskrag en geselligheid te oorrompel,” Volgens Pyper.

Lynn Naude, Algemene Bestuurder: Absa Borgskappe, het Pyper se boodskap benadruk en sê feesgangers kan hulle regmaak vir ‘n fees soos min: Absa se borgskap van die Absa KKNK strek nou in sy 9de jaar en ons voortgesette betrokkenheid met die fees beklemtoon Absa se toegewydheid tot die ontwikkeling van al die kunste in Suid-Afrika. Ons is trots om geassosier te word met ’n fees wat deur die verskeidenheid produksies die diversiteit van Suid-Afrika weerspieël en sien uit na die 2013 weergawe. Die Absa KKNK gaan elke jaar van krag tot krag en sodoende word al hoe meer Suid-Afrikaners en kunstenaars blootgestel aan die wondere van hierdie fees,” sê Naude.

Die fees spog ook vanjaar met baie nuutjies:

Vaste tydgleuwe vir produksies maak dit makliker om jou feesskedule te beplan, aangesien produksies wat herhaal, daagliks dieselfde tyd sal speel;

Die Huisgenoot Musiekplaas keer na jare weer terug na die REC (Oudtshoorn Krieketstadion) en drie groot musiekkonserte word oor die eerste drie aande van die fees daar aangebied;

2013 Absa KKNK program
2013 Absa KKNK program
Die gewilde Top 40-Verhoog bied sy sterkste program tot nog toe aan. Hoofkunstenaars sluit in: The Rockets, Dr. Victor and the Rasta Rebels, Emo Adams en Take Note, asook Idols Crushanda en Karin Kortje.

Die 10 tot 10-verhoog – die fees se splinternuwe verhoog, gemik op die Afrikaanse gesinsmark – word in die hartjie van die Rivierbuurt aangebied;

Die vermaak en stalletjies in die gewilde Rivierbuurt gaan daagliks tot heelwat later -van 10:00 tot 22:00 – oopbly. Dit bied die ideale uitspanplek vir gesinne met ’n keuse van musiek, smullekker feeskos, yskoue drinkgoed, ’n inkopieparadys met ongeveer 400 stalletjies, ’n pretpark en ander speletjies vir adrenalienverslaafdes. Toegang is R40 per dag, terwyl ‘n weekkaartjie slegs R100 kos. Kinders onder 15, vergesel deur ’n volwassene, kry gratis toegang.

’n Weeklange straatfees sal in Baron van Reede plaasvind, bestaande uit musiek, toneel en visuele kunsaanbiedings;
Die feesprogram bied ’n uitgebreide en innoverende program vir verskeie jonger gehore, waaronder:

’n Nuwe kindervenue, Spekkie se Plekkie, sal vanaf vroegdag tot saans vermaak aanbied – nie net vir die kleinspan nie, maar vir die hele gesin;

Johnny Biskit’s, ’n splinternuwe eksklusiewe uithangplek vir feesgangers onder 18, sal daagliks van 12:00 tot ounag bedryf word. Jongmense kan uitsien na snykant-produksies en ’n slapsit sitkamer deur die dag en ’n laatnagklub.

Die Deurbraak-venue, waar jonger professionele stemme verlede jaar groot opslae gemaak het en met verskeie Kanna-nominasies erken is, se inhoud word uitgebrei om nie net produksies nie, maar ook skerpskerts-komedie en opkomende musiekgroepe in die aand te huisves;

’n Massakooruitvoering, bestaande uit plaaslike kore, saam met die UP Simfonie-orkes, op Paas-Maandag, bied ’n hoogtepunt van die klassieke musiekaanbod op die fees;

Die Absa KKNK brei sy tuiste vir fisieke en visuele teater in die Baanbreek-venue uit en bied ’n eerste opdragwerk, Pruttel, as vlagskipproduksie hier aan;

Na verlede jaar se ongekende sukses by die loket, bou ons voort op die briljante talent van van ons land se mees bekwame dansers om ook ’n tuiste vir dansteater by ons fees uit te bou met die produksie, SpectacularSpectacular 2!;

Met al die erkenning wat ons kurator, Sandra Hanekom, verlede jaar vir haar uitblinker-feesuitstallings ontvang het, word ’n selfs wyer verskeidenheid vooraanstaande hedendaagse Suid-Afrikaanse visuele kuns na Oudtshoorn gebring met die aangrypende werke van Diane Victor as feeskunstenaar;

Die gesprekke- en boekeprogram word in die CP Nel Museum se Rembrandtsaal aangebied. Hierdie venue word gesellig as restaurant ingerig, waar storievertelling en boekgesprekke rondom bekende skrywers en meningvormers sal plaasvind. Hou gerus www.absakknk.co.za dop vir die volledige gesprekke- en boekeprogram

Lewer kommentaar

Leave a Reply