Die ouers van ‘n gr.12-leerder is woedend nadat hul dogter uit haar skool se hostel geskors is omdat sy na bewering ander meisies gesoen en seksueel geteister het.
Die 18-jarige leerder is op 20 Januarie uit die Blue Hills College-hostel in Midrand geskors nadat sy skuldig bevind is op twee oortredings wat verband hou met seksuele teistering, berig The Star.
Sy het na bewering ‘n ander meisie op die skool se perseel gesoen en ‘n bed met ‘n ander meisie gedeel.
Hoewel haar ouers erken dat sy die skoolreëls oortree het, het hulle gesê die korrekte stappe is nie gevolg nie.
Hoewel die leerder nie uit die skool geskors is nie, kan sy nie klasse bywoon nie, omdat haar ouers nie kan bekostig om haar reisgeld tussen Westonaria en Midrand (180km) te betaal nie.
Chief Ndlovu, die skool se bemarkingsdirekteur, het aan die koerant gesê hy duld nie seksuele interaksie op die perseel nie.
Ndlovu het gesê die leerder se seksuele oriëntasie het nie die besluit om haar te skors beïnvloed nie.
