Die lewe is alleen draaglik as ´n mens ´n bietjie dronk is

´n Ou Skrywer op sy voorstoep ervaar die sonsondergang oor ´n kulturele era. Hy kla dat hy nie iets nuuts en vars kan skryf nie. "Daar’s niks nuuts onder die son nie." Maar hy gesels tog te lekker met homself.

Dis die een pittigheid op die ander en wanneer Rosie die drinkgoedjies bring word daar éérs gekorswil en gekapittel. Ondanks Rosie se vermanings val hy van die stoep, gelukkig is daar ´n Keurbos in die tuin.

Dit is die scenario in Uys Krige se skreeusnaakse, dog roerende toneelstuk Die lewe is alleen draaglik as ´n mens ´n bietjie dronk is. Bekroonde akteur Neels Coetzee vertolk die rol van die Ou Skrywer met die alombekende Gail Reagon, van Glass Roots-faam, in die rol van Rosie. Johan Esterhuizen, ook ´n ou bekende in Suid-Afrikaanse teaterkringe, behartig die regie.

In dié toneelstuk van Krige ervaar ons die vreugde van sy sprankelende dialoog, sy gevleuelde woord en beeldspraak op sy beste. Hy glimlag met die voortande terwyl hy kners op die agtertande, al is dit dan kunstande.

Neels Coetzee het aan die Universiteit Pretoria toneelkuns bestudeer saam met mense soos Sandra Prinsloo, Marga van Rooy, George Ballot, Lerina Erasmus en Katinka Heyns. Hy werk reeds meer as dertig jaar voltyds op die verhoog – eers vir SUKOVS en toe vir KRUIK.

Hy is verskeie kere benoem as beste akteur en het ook die Fleur du Cap Toneelprys ontvang. Sedert 1998 werk hy vanaf Pretoria as vryskutakteur en het opgetree in produksies soos Nog ´n Kooi Nog ´n Vlooi, Drie Susters II, My Vrou se Man se Vrou, Skroot en onlangs Jan Ellis se Wyn. Hy was ook te sien in televisiereekse soos Meester, Arende, The Game, Tropical Heat en sepies soos Egoli, Isidingo, Generations en 7de Laan.

Gail Reagon is gebore in Kaapstad en het begin optree terwyl sy nog op skool was. In 1987 het sy ´n rol gekry in David Kramer en Taliep Pietersen se musiekblyspel District Six. Sedertdien het sy in verskeie suksesvolle toneelstukke opgetree soos Dying Breed, Grease en as Fiela in Fiela se kind. Vir Dying Breed en meer onlangs vir Glass Roots het sy die Fleur du Cap toneelsprys vir beste byspeler gewen, asook, vir laasgenoemde, ´n FNB Vita toekenning.

Die lewe is alleen draaglik as ´n mens ´n bietjie dronk is word aangebied deur Neels Coetzee en word ondersteun deur die Nasionale Kunsteraad van Suid-Afrika.

Lewer kommentaar

Leave a Reply