Horings

Horings is geskryf deur Nicholas Ellenbogen en die regie word waargeneem deur Frans Swart. Swart sê dat alhoewel Horings by die KKNK ingedeel is onder kindervermaak, dit nie net uitsluitlik vir kinders is nie. "Die kleintjies geniet veral al die aksie in die stuk en ons het ons reeds verstom dat kleuterskoolkinders al die diere dadelik herken en elke oomblik saam beleef. So saam met al die aksie van die diere wat met mekaar baklei, pret het en die verhaal van ‘Ubejane’ vertel, kom die baie sterk boodskap van die bewaring van die swartrenoster en dan ook die natuur in geheel baie sterk na vore. Dit is egter nie net ´n stuk vir kinders nie, maar die groter kinders en volwassenes geniet dit net so, want daar is heelwat satire, komiese en ironiese oomblikke in die stuk. Ons hoop dus dat volwassenes, kinders en ouers die stuk sal kom bywoon"

Hierdie produksie vestig mense se aandag op die ongelooflike aanslag teen die swart renoster (‘ubejane’). Die drama handel oor die pynlike besprekingspunt van die onnodige doodmaak van die swartrenoster. Dit volg die spore van ´n swartrenosterkoei om die realiteite van die natuur oor te dra en ook om die kreet van die renoster te illustreer. Die kreet van die wildsteler (poacher) word ook paradoksaal uitgebeeld.

"Horings is ´n ongelooflike fisiese stuk en daarom het ek besluit om van ´n span jong akteurs gebruik te maak," sê regisseur Frans Swart. "En hierdie span slaag daarin om van ên renoster tot ên miskruier te speel en met beweging en mimiek uit te beeld."

Angelique Gerber vertolk die rol van die Aasvoël, wat dan ook as die komiese verteller optree. "Die Swartrenoster kan nie praat nie, maar Horings het vir die Swartrenoster ên stem gegee," sê sy. "Waar ons ook al opgetree het met hierdie produksie, het mense vir ons kom sê dat ons vir die Swartrenoster ên ware stem gegee het. Ek dink die uiteindelike boodskap is só sterk omdat al die gebeure so komies uitgebeeld word in kontras met die onnodige uitwissing van die swartrenoster." Ander spelers in die stuk is Anjelee de Jager, Anmari van Achterbergh, Armand Krüger, Edwin Marshall, Elize Marais, Johann van der Heever, Juandre Krüger, Phillru van Achterbergh, Shaun van Eck en Tricia Jordaan. Die beligtingsontwerp is deur Leon Geyer, verhoogbestuur deur Elani Willemse en Anton Treurnich was Assistent-Regisseur.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar