Gemeenskapsteater kry vanjaar weer gestalte by die Suidoosterfees wanneer akteurs uit die Vredendal-gemeenskap die verhoog bestyg in Die Nyl vannie Weskus. Hierdie produksie volg in die voetspore van verlede jaar se treffer, Perlemoen my Ghoen – ´n perlemoenstorie, wat op verhale uit die Hawston gemeenskap geskoei is.
Volgens Anthony Wilson, regisseur van Die Nyl vannie Weskus, is dit ´n verhaal oor ´n gemeenskap met ´n ander tipe agtergrond as die van Hawston.
“Met die Hawston-projek het ons veral gepoog om iets positiefs oor die mense van Hawston te sê en weg te breek van die stigma dat almal in die gemeenskap by perlemoenstropery betrokke is. Nou het ons te doen met ´n ander tipe verhaal: Die Olifantsrivier en -vallei is voorheen gesien as die ‘broodmandjie’ van Suid-Afrika. Wanneer die Olifantsrivier sy walle oorstroom het, is koring op sy oewers geplant. Mettertyd is koring vervang met die wingerdstok en sy wyn wat somstyd dui op die absolute verval van mense.”
“Met Die Nyl vannie Weskus sal ons sekere aspekte en dispariteite uit die gemeenskap aan die kaak stel.”
Wilson noem verder dat die ontwikkelingsdrama die verhaal vertel van ´n jong man, Jonathan, wat sy rug draai op sy mense en sy heil in Kaapstad gaan soek. Wanneer hy egter na Vredendal terugkeer, heers daar onsekerheid oor die rede agter sy skielike terugkoms.
“In die dram herleef ons ook die verhaal van Die Nama Potjie, ´n restaurant van Saldanha wat vir sy eg Namakwalandse kos en afval bekend was en baie toeriste gelok het,” sê Wilson.
Karen Newman, projekkoördineerder, noem dat die groep van twaalf lede, wie se ouderdomme tussen 20 en 35 jaar wissel, sedert hul aansluiting by die dramagroep, gedeeltes uit gedigte gebruik in hul daaglikse gesprekke en lief is om te sê “of hoe?”, na aanleiding van Peter Snyders se gedig, of sal maklik sê “soos Vaalput se water in droen tyd”.
Wilson sê: “My fokus is op digters soos Andre Boesak, Eugene Beukes en Leonard Koza, veral gedigte met sy eie stories.”
Newman en Wilson noem albei dat die groep tydens die onlangse Wes-Kaapse Taalkomitee Dialekfees by Koekenaap ´n woordkunsprogram gedoen het, wat met groot lof ontvang is. Die lede het onder meer die gedig Ons is Afriqua, van Elias P. Nel, vir kitaar getoonset.
Volgens Wilson kan Nel se gedig as deel van die toneelgroep se epiloog gesien word. “Hierdie gedig sê: ons is werklike Suid-Afrikaners en is trots daarop. Die drama self vertel ´n storie uit die gemeenskap, deur die gemeenskap, hul lief en leed met die soet en suur.”
Die Nyl vannie Weskus sal twee keer tydens die Suidoosterfees by Pentech opgevoer word.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
