Kovsies maak skoonskip

Terwyl die dramastudente van die Universiteit Vrystaat steeds in die wolke is nadat hulle by die KKNK skoonskip met die Sanlam-pryse vir Afrikaanse Teater gemaak het, herhaal Sanlam sy uitnodiging aan die land se toneelskrywers om aan die werk te spring vir 2006 se kompetisie.

Die wedywering tussen die vier studentegroepe om vanjaar se Sanlam-pryse by die afgelope KKNK het voorwaar vir uitnemende studenteteater gesorg.

Zollie, een van Kovsies se twee inskrywings deur verskillende groepe, is tydens die toekenningsgeleentheid as die beste produksie aangewys. Dié stuk wat oor straatkinders handel, het boonop met al die individuele pryse weggestap.

Nico Luwes is vir die beste teks bekroon, Gerben Kamper as regisseur en Lulu Botha (foto) as beste akteur vir haar vertolking van Maria Georgeo, ‘n Afrikaanssprekende Griekse restauranteienaar.

Die drie individuele wenners steek elkeen R20 000 in die sak, terwyl die universiteit se dramadepartement R100 000 ontvang, op voorwaarde dat die toneelstuk by ten minste nog twee ander kunstefeeste ook opgevoer word. Dit is reeds bekend dat die produksie by Die Volksblad-kunstefees van 12 tot 17 Julie in Bloemfontein te sien sal wees en moontlik ook by die Suidoosterfees in die Kaap van 23 tot 25 September 2005.

Afgesien van Zollie, was die ander finaliste Chris Vorster se Aasvoëls, die Tshwane Universiteit van Tegnologie se Skimmespel deur Wim Vorster en die Universiteit van Stellenbosch se Erwe deur Adriaan Meyer.

Die beoordelaars was Pieter Fourie (sameroeper), Margot Luyt, Anthony Wilson, Jeanne Goosen en Hennie van Greunen.

Intussen kan die land se toneelskrywers wat vir 2006 se Sanlam-teaterprys in aanmerking wil kom, maar solank aan die werk spring. Oorspronklike Afrikaanse dramatekste (ongeag dialek of streektaal) kan aan enige van die dramadepartemente by tersiêre instellings in Suid-Afrika vir oorweging voorgelê word. Die afsnydatum hiervoor is 14 Oktober 2005, waarna die tekste beoordeel en die finaliste (tot vier) teen Februarie 2006 aagekondig sal word. Die finaliste sal met borgskappe van R25 000 elk by Aardklop 2006 opgevoer word om die algehele en individuele wenners aan te wys.

Volledige besonderhede is op die internet by www.sanlam.co.za beskikbaar onder Kompetisies op die tuisblad.

Lewer kommentaar

Leave a Reply