smallchange

Waar was jy die dag toe Prinses Diana verongeluk het in die donker D’Alma-tonnel in Parys? Waarmee was jy besig toe jy hoor van JKF se moord in Dallas of toe Vlug 11 helder oordag in die World Trade Centre vasgevlieg het? Ongetwyfeld sal jy kan antwoord sonder om te hard te dink omdat hierdie gebeurtenisse ons lewens verander het.

Massiewe dae in die bestaan van die mens wat onmoontlik is om te vergeet, deel gemaak van ons selle, geweldadig vasgevang in ons geheue. vir ewig. Wat weet jy van jou eie DNA? Wat het Maria Callas te doen met die holocaust? Waar pas Nietzsche in by Karen Carpenter? Wat is die konneksie tussen Liza Minelli en die Salem Heksejag en hoekom is die Rosetta-steen relevant tot Shirley Bassey?

smallchange, ´n nuwe musiekvertoning van kabaret diva Elzabé Zietsman, hoop om antwoorde te gee op hierdie fantastiese en betowerende vrae, maar vra ook nuwes, skep interessante variasies op ou temas en lewer kommentaar oor ons emosies en vrese. Dit stel ondersoek in na die verband tussen geskiedenis, wetenskap en kuns en hoe alles verband hou met mekaar. smallchange, geskryf en geregisseur deur bekroonde akteur / skrywer Wikus du Toit (wat so pas teruggekeer het van New York waar hy onder John Kander van Cabaret- en Chicago-faam studeer het) is ´n splinternuwe vertoning van Zietsman.

Zietsman-aanhangers kan uitsien na haar gewone satiriese styl en bekende sardoniese humor wat stewig in plek is. Sy het haar naam in die 80’s gemaak met kabarette en was later die gehate Kay Knobel in Egoli. Ook het sy in Duitse weergawes die rolle van Velma Kelly in Chicago en die titelrol van Evita in Duitsland vertolk.

Musiekverwerkings van songs soos Vogue, Goldfinger, La Vie en Rose, en Somewhere over the Rainbow, ook deur Wikus du Toit, sal verseker dat hierdie vertoning ´n ongelooflike ervaring is. Zietsman op haar beste. en dit opsigself is iets om oor huis toe te skryf!

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar