Dis die lewe, moenie lag nie!

Pedro Kruger sê sy is die snaaksste mens wat hy in ‘n lang tyd ontmoet het. Gerrit Brand skryf in Die Burger, “Marion Holm se eenman-opvoering Sussie Rafel nou uit is populêr, toeganklik en ja, vermaaklik. Die groot gehoor het dit klaarblyklik geniet. Tog sit daar meer in as wat aanvanklik kan blyk. Holm is ‘n uiters professionele kunstenaar wat blykbaar moeiteloos haar gehoor met haar saamneem. In die proses ontmasker sy allerlei — veral snobistiese — pretensies en bring sy deur deernisvolle spot ‘n waardigheid in gewone mense aan die lig.” Gabriël Botma skryf ‘Holm is die regte persoon om die ondenkbare van te verwag.’

Marion Holm se Sussie karakter is besig om een van die grootste fenomene in Afrikaanse komedie te word. Marion fokus die afgelope paar jaar meestal op vervaardigingswerk vir televisie en is onlangs op die verhoog gesien in die bekroonde Jong Dames Dinamiet saam met Margit Meyer-Rödenbeck en in Anna se Engel saam met Pedro Kruger.

Mense word vooraf gewaarsku: Moenie hierdie produksies bywoon as jy blaasprobleme het nie, want Holm se stories en sketse is humor op sy beste, veral goeie Afrikaanse humor. Sy laat die gehoor van die begin af skaterlag. Holm is verder bekend vir haar deelname aan die Casper Rasper Show en opstuur sepie Haak & Steek as akteur én show koördineerder.

Holm skryf in 1982 Matriek aan De Kuilenskool in Kuilsrivier, gaan swot drama aan die Universiteit van Stellenbosch en word genomineer vir ‘n Fleur du Cap (een van drie wat sou volg) as mees belowende dramastudent. Buiten komedie, was Holm al aanbieder van bekendstellings soos KKNK, doen sy konseptualisering (Gecko Toekennings in Windhoek), projekbestuur, tree op in Liriekeraai en koop en ontwikkel ‘n rolverdelingsmaatskappy Principal Casting van 1995-1999 met ‘n nuwe tak in Kaapstad. Al het sy intussen haar aandele verkoop, is Principal Casting een van die suksesvolsste van sy soort in die land.

Saam met Hennie van Greunen skryf en repiteer sy tans aan Braaivleis, rugby, sunny skies en… SUSSIE!, die eerste optrede is tydens ‘n damesoggend by Die Boer in Durbanville waar Sussie is nou Suur ook opgevoer word. Daarna is dit Holm, Kruger en Schalk van der Merwe in Die Tafel (ook by vanjaar se KKNK te sien). Op 8 Maart speel Sussie Rafel nou uit by Riviera on Vaal in Vereeniging. Op 10 en 11 Maart by die Woordfees in die Klein Libertas Teater in Stellenbosch. Daarna volg KKNK 2006 waar Holm die fees open met Braaivleis. Haydee Hollander het vir Marion ‘n paar vrae per e-pos gestuur en was verras deur die plat-op-die-aarde komediant.

Sal ons ou volkie ooit van sy pretensies ontslae raak?

Marion: So gou as die eerste ou aan tafel (by ‘n sit down dinner) bereid is om sy pose te drop, so gou verloor ons volk sy pretensies en ek praat uit ondervinding. Dit neem net een ou om besluit hy speel nie meer saam nie.

Sussie is nou Suur het gespeel voor vol sale by die KKNK, was by die Volksblad- en Kalfiefees te sien en jy is nog druk aan’t toer met dié en Sussie Rafel nou uit. Hoe gaan jy te werk met die genre? Staan jy soms terug en dink hoe jy dit sou beskou as toeskouer?

Marion Holm
Marion Holm
Marion: Haydeeeeeeeeeee, jy vra sulke móéilike vraeeeeeeee! Okay, maar ek gaan nou mooi probeer antwoord. Sussie is nou Suur het in 2004 by die KKNK gedebuteer en verlede jaar was Sussie Rafel nou uit by die KKNK. Hierdie jaar is dit Braaivleis, rugby, sunny skies en . SUSSIE! Ek vertel net ‘n storie soos wat ek hom sou vertel; ek staan nooit terug en dink hoe die toeskouer dit ervaar nie, want ek laat daai deel heeltemal oor aan my regisseur, Hennie van Greunen. As ek vir hom ‘n storie vertel en hy sê dis nie snaaks genoeg om in die show te wees nie, dan laat ek dit uit. Ek trust hom eenhonderd persent.

Hoekom is Sussie so suur?

Marion: Ag, sy’s nie regtig nie. Jare gelede toe die hele ding van Boetman is die Bliksem in die koerante op hol had, het ek by myself gedink, ‘uh hallo, jy’s nie al een nie, sussie is óók suur’. Toe ek my eerste solovertoning beplan en moes dink aan ‘n titel, het Chris Louw en die ‘swanesang van die verligtes’ my weer bygeval.

Wat vir jou (as komediant) is die kérn van Afrikaner wees, of dan Suid-Afrikaner net ingeval ek van inteling beskuldig word.

Marion: Om eerlik te wees in die shows moet ek die ding op sy naam noem, my stories en sketse handel oor mense met wie ek daagliks in aanraking kom en kén en dis hulle wat ek namaak. My show is nie tipies Suid-Afrikaans nie, eerder tipies middelklas. Wit Afrikaner Middelklas (waartoe ek ook behoort).

Komedie bring mens onwillekeurig te staan voor kwessies soos stereotipering, satire en die belaglike, want dit is amper onmoontlik om humor te skep sonder dié elemente. Elemente wat weer kan aanstoot gee. Hoe hanteer julle dit of is die doel ook om aanstoot te gee? En hoe gee jy aanstoot sonder om kwaad te maak en te vervreem van die teater?

Marion: Ek wil juis nie aanstoot gee nie en bly met die Sussie-shows opsetlik weg van toilethumor en onderwerpe soos godsdiens, seks en politiek. Maar wat volgens mý nie aanstoot gee nie, is dalk aanstootlik vir ‘n ander ou. Iewers sál ek iemand kwaad maak met wat ek sê, want dis onmoontlik om altyd almal te please. Solank ek egter weet ek het opgetree binne die standaarde en norme en moraliteit waarin ék glo.

Hoe verplaas jy ‘n goeie idee na die verhoog en maak ‘n sukses daarvan?

Marion: Sjoe ek weet nie eintlik nie! Ek dink die hele sukses van Sussie is juis dat sy meestal praat oor hoe sy haar eie naam met ‘n plank slaan. Sy is dikwels self die onderwerp van bespotting; bietjie soos Liewe Heksie. Sussie praat oor haarself en het die guts om te sê wat ons ander try wegsteek, sy sal nie stilbly oor familie wat vir ander kômmen is nie – nee, sy vertel stories oor hulle maar dis duidelik dat sy hulle ook baie lief het, kômmen of te not. Meeste van ons is te skaam om te erken ons het sulke familie, so ons uitlaatklep is deur iemand anders (of ‘n karakter soos Sussie) en die gehoor tel die deernis en empatie op wat sy voel jeens die karakters in haar stories.

Is die verhoog jou enigste beroep of sit jy bedags agter ‘n lessenaar in Commissionerstraat en wag vir sononder sodat jy hierdie ander mens kan word?

Marion: Ek het vir elf jaar ophou toneelspeel, maar nou is dit my enigste beroep en dit hou my regtig baie besig. Ek is inderdaad geseënd dat dit my enigste beroep is.

In die film Being Julia herinner haar drama onderwyser Jimmy Langton haar voortdurend daaraan dat die verhoog haar enigste realiteit is. Wat is die verhoog vir jou? Kan jy daarsonder?

Marion: Ja, ek kan sonder die verhoog, ongetwyfeld. Ek sal enige dag ophou en ‘n goeie, outydse slaghuis oopmaak. Maar ek glo elke mens word op aarde geplaas met ‘n doel en vir nou is my job om mense te laat lag. Dis hoekom ek op die verhoog staan. Nie omdat ek noodwendig self so baie daarvan hou of dit self nodig het nie. However, dis great wanneer ek wél daar staan en mense lag so lekker. Dan ad lib ek sommer nog goed vir meer effek.

By aanskoue van jou as Ta’ Anna in Kallie Marie en Haak en Steek is dit opvallend hoe natuurlik en sonder omhaal alles vir jou kom. Glad nie geforseerd nie en altyd vars en energiek asof jy in die komiese tuig gebore is?

Marion: Ek is inderdaad geseënd met ‘n natuurlike aanvoeling vir komedie. Ek tel ‘n teks op en weet instinktief waar om pouses te maak en vinniger te praat vir maksimum komiese effek. Dit beteken egter glad nie ek is is ooit tevrede met wat ek doen nie, ek erken net die Liewe Vader het my ‘n talent en aanvoeling gegee vir komedie. Ek maak al mense na van kleintyd maar wou nooit ‘n aktrise word nie, eerder verpleegster. Ek mag dus ‘n natuurlike aanvoeling vir die komiese hê maar beslis nie vir die bedryf nie!

In 2004 het jy, Kruger, Trix Pienaar, Van Greunen en Meyer-Rödenbeck feitlik die Kalfiefees oorheers met Op die vrou af (Kruger en Sarah Theron, teksverwerking en regie Van Greunen), K deur Van Greunen (Pienaar en Meyer-Rödenbeck), Sussie is nou Suur, (regie Van Greunen) en Die Hangkas Haas waarvan jy die regie en Pedro die musiekregie gedoen het. En verlede jaar was albei Sussies op die Cederberg-fees te sien. Hangkas is in 2004 as een van die tien topproduksies op die KKNK aangewys en vir twee Kannas benoem. Wat van ‘n BK of is dit belangrik om onafhanklik te bly werk?

Marion: Hennie het ‘n BK, Wordsmith’s Theatre Factory, en ek en Marietjie Rossouw se BK heet Handyminds. Die twee companies werk egter baie nou saam as dit by teater kom, maar Handyminds doen ook allerhande ander dinge waarby Wordsmith’s geen belang het nie (byvoorbeeld as Handyminds nou ‘n slaghuis sou oopmaak…) Voorts is dit belangrik om nie meer as twee lede per BK te hê nie, want die verpligting om vir elk ‘n voltydse salaris (en dus werk) te skep kan veroorsaak dat jy iemand cast in ‘n rol wat nie noodwendig voordelig vir die show is nie. Dit is die begin van die afdraende pad, die produk móét altyd eerste kom. Die manier waarop ons dinge tans bedryf, werk goed vir ons.

En mens kan nie van Kallie Marie praat, sonder om van Casper de Vries, sy briljante komiese vakmanskap, fyn en dubbelsinnige spot te praat nie. Hy is manhaftig sonder om (genadiglik) polities-korrek te wees. Hoe ervaar jy dit om met hom te werk?

Marion: Dit is bloot fantasties om saam met hom te werk, want dan sien ek hom ten minste gereeld. Ons is vriende sedert ons in 1983 as eerstejaars die US se Drama Departement ingestap het, maar ek sien hom min want ek bly in die Kaap en Casper in Gauteng. Tweedens het ek geweldig respek vir sy talent en vakmanskap, die man is eenvoudig briljant. Ek gun hom sy sukses want hy is een van die mees hardwerkende akteurs wat ek ken. Ook salujeer ek die vreesloosheid waarna jy verwys al stem ek nie noodwendig altyd saam met wat hy sê nie. Ek het ongelooflike respek vir sy skills as besigheidsman. All in all is Casper ‘n fenomeen, wat meer kan mens sê.

Dit wil ook voorkom asof daar eensgesindheid is onder die akteurs in Haak en Steek, Kallie Marie en GekSkiedenis?

Marion: Ja, Casper kies fyn met wie hy wil werk en behalwe dit, is die eindbeeld vir almal goed omlyn omdat almal alreeds vertroud is met Casper se werk, sy visie en sin vir humor.

As jy ‘n cartoon karakter kon wees, wie sou jy kies?

Marion: My favourite karakter is Liewe Heksie maar ek veronderstel sy tel nie as ‘n cartoon karakter nie of hoe?

Met wie in die bedryf sou jy graag nog wou saamwerk?

Marion: Ek ken hom nie persoonlik nie, maar ek like sy werk baie – Zane Meas. Hy lyk net so lekker rooted as hy op die verhoog is. (Ook op TV), Nicole Holm – elke keer as ek haar sien act raak ek sommer van voor af begeesterd. Zorada Temming – sy speel ‘n kerkorrel dat jou bloed in die teenoorgestelde rigting vloei.

En het jy weer begin rook?

Ja.

bydrae: Haydee Hollander

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar