Dowwe Dolla: Die Goeie Fee(ks)

Dowwe Dolla trek haar Goeie Fee(ks) rokkie aan en vat ons op reis deur haar inkleur-uitgawe van Almal se Gunsteling Feeverhale. Sy pluk blomme, wolwe en meer as net ‘n paar towerstaffies. In die Cape Flats pluk sy selfs ‘n paar towerStaggies. By die SPCA ‘n paar towerstaffies (honde wat NIE jou huis opvreet nie). Want ons woon mos in ‘n feetjieland, waar vreemde magte elke aspek van ons lewens beheer.

Want wat sê mens nou van ‘n land waar die petrol toweragtig verdwyn, die hele volk oorskakel na gas en die gas dan toweragtig verdwyn? En as die gas terugkom, is dit duurder as petrol? Of waar die televisiefee oornag gewone mense in sterre verander, totdat die volk besef die nuwe sterre :
a. het glad nie talent nie
b. is eintlik maar baie kommen
c. is ‘n swak refleksie van Afrikaanses
d. is maar net mens, of
e. all of the above,
en hulle vlammetjies summier versmoor. Waar die Dep President binne ‘n paar maande Dep Pressed is, maar die volk hom steeds aanbid en hulself voor sy Mercedes inwerp, mid-toyi toyi? Waar die voorste rugbyspan in die wêreld binne ‘n paar jaar sukkel in ‘n wedstryd teen die Gestremde Skool se B-span?

Dolla besluit dat die enigste manier om hierdie krisisse te besweer, is deur towerkrag en sy skryf in as voltydse student by die Herwaartse Skool van Magic. Twee weke later kry sy haar Certifikaat van Compatincy, en vat sy haar towerstaffie, haar Rooikappie-outfit en ‘n dooie corgi (moenie vra nie!) om die land se misdaad, sport en opvolgingskrisisse op te los. Op pad na die perfekte oplossing, verduidelik sy die menslike psige, die dieper betekenis van De la Rey en die ware stories agter die feeverhale.

Dowwe Dolla is die alter-ego van teaterentrepreneur Margit Meyer-Rödenbeck (akteur, serememoniemeester, radio omroeper en deesdae ook teatereieinaar) en haar woorde en lirieke is die werk van bekroonde skywer Hennie van Greunen, terwyl Pedro Kruger verantwoordelik is vir die musiekregie.

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply