Toe Ken Gampu dood is, het die verlies ‘n reuse impak op my gehad hoewel ek hom nooit persoonlik geken het nie maar by monde van my pa was ek ‘n oortuigde aanhanger. Toevallig werk ek met Sothos, Tswanas, Xhosas en Zoeloes en ander aan ‘n TV produksie, en met elke mens met wie ek gepraat het, het ek meer oortuig geraak van die grootsheid en onaantasbaarheid van Ken Gampu as held.
Vanoggend se koerant dra die … ek raai – dankbare nuus dat Oom Eghard dood is in sy slaap. Rustig, soos ek dink hy verdien het.
Ek het hom leer ken onder vreemde en selfs ongemaklike omstandighede. Toe my oudste (nou sestien) gebore is, moes ek op dieselfde dag weg om kop bo water te hou; op ‘n twee maande toneeltoer. Saam met my in die rolverdeling van Stille Nag was die oom wat ek nog altyd net op TV en op die verhoog gesien het – Eghard van der Hoven.
Na afloop hiervan kon ek sê (wat ek nog altyd het) – hoe geseënd sy kinders nie moes gewees het om so ‘n pa te had nie. Omdat hy vir my ook in die twee maande soos ‘n pa was. Onder andere – dink ek … omdat hy geweet het ek was een.
In Natal het hy graag gesels oor die geskiedenis van die oorloë daar … in Bloemfontein onthou ek hoe hy en tannie Tilana ons onthaal het op Chicken a’ la King, soos hy die gekoopte pakkies kos – met ‘n ondeunde glinster in die oog, genoem het.
Ek onthou die lekker gesprekke by die ontbyttafel in Oos-Londen en Port Elizabeth, hulle grasie in my tuisdorp, Kaapstad, en die verstandige ondersteuning in Windhoek …
Wat ‘n voorreg om by sy sewentigste verjaarsdag in die Staatsteater te kon wees. Min was die verbasing dus en groot die opwinding toe hy in later jare – gedurende die post – ’94 Staatsteater krisistye, weer betrek is by die teater waar hy soveel hoogtes behaal het.
Soos hy daar tussen die Natal heuwels in die kombi vir my vertel het – hy was ‘n “takhaar Afrikaner”. Dis hoekom die Broederbond hom nooit genader het nie, het hy hardop gedink.
En steeds sulke hoogtes te bereik …
Om hom op openingsaande ‘n spesiale verwelkoming by ons stukke te gee was die grootste voorreg. Tot ons vanjaar gehoor het hy gaan nie meer uit nie.
Toe ek nog betrokke was by radio, het ons ‘n hele reeks oor die teatertoere met Oom Eghard as gas aangebied. Die humor in sy verhale oor André Hugeunot en andere; die erns in sy beleë benadering tot die teater as vermaakvorm, Oom Eghard as unassuming, soliede mede-akteur, Oom Eghard as mens, wat ‘n aanwins was hy tog nie vir die samelewing nie.
So sal sy nagedagtenis ook wees. Ons groet een van die grotes.
bydrae: Albert Maritz
