Na die skittersukses van Janice Honeyman se WAM in Mei 2006, bied die Klein Libertas Teater met trots nog ‘n kwaliteit kinderproduksie aan. Bongi, Banna & Mêrrim Aikona is ‘n drietalige nuwe teks spesifiek geskryf en geregisseur deur kinderteater-veteraan Erik de Waal wie se solo stuk Tales from the Calabash reeds vir meer as 90 000 kinders in skole en by teaters in Suid Afrika, Kanada, Engeland, Ierland, Turkye, Argentinië en Mexiko opgevoer is.
In Bongi, Banna & Mêrrim Aikona probeer twee vriende om by die sirkus aan te sluit, maar hulle moet eers vir Nelson, ‘n klein sirkusapie, oppas. Die handeling versnel dramaties as Mêrrim Aikona, ‘n flambojante pelsdraende skurk, probeer om die apie te steel sodat sy aapvelhandskoene kan maak. Ons helde, Bongi en Banna, staan bont om Nelson se vel te red sodat hulle as leerlingnarre saam met die beroemde sirkusnar Bertolucci kan werk.
Met hope fisieke komedie, beweging, kleurvolle kostuums en ‘n stewige porsie gehoordeelname, is Bongi, Banna & Mêrrim Aikona ‘n aksiebelaaide eskapade propvol naelbyt plesier en tonekrul humor. Die professionele geselskap sluit Bongile Mantsai (wenner van die Fleur du Cap vir Beste Ondersteunende Akteur), Riaan Visman en Colleen Triegaardt (met drie jaar opleiding in sirkusvaardighede in Noord-Ierland) in. Hierdie mallemeule plesierrit in Afrikaans, Xhosa en Engels is die eerste drietalige kinderteaterproduksie deur ‘n professionele geselskap in die Wes-Kaap en alle leerders (ongeag hul moedertaal) sal die storie kan volg terwyl hulle blootgestel word aan ‘n taal wat hulle miskien baie selde hoor. Dit is ons tweede kinderteater- produksie in ‘n projek om kwaliteit kinderteater na die Wes-Kaap te bring en om ‘n multi-kulturele bewustheid te bevorder. Die stuk is 60 minute lank en is spesifiek gerig op leerders tussen 4 en 10 jaar oud.
